Kontakmisdade soos moord, huis- en sakerooftogte, kapings en aanranding met die poging om ernstig te beseer sal waarskynlik wéér styg, het oud-genl.maj. Chris de Kock, die polisie se afgetrede hoof van statistieke, gesê.
“Die leierskapprobleem in die polisie-topstruktuur is geen geheim nie. Alle misdrywe waaraan ons die doeltreffendheid van die polisie kan meet, sal waarskynlik toeneem. Dit sluit rooftogte op straat, in huise, kapings, die inbraak by huise en motordiefstal in."
Netwerk24 het reeds vroeër vanjaar uitgelekte misdaadsyfers onthul wat wys hoe Gauteng se moordsyfer met nagenoeg 10% gestyg het. Trouens, net agt uit 28 belangrike misdaadkategorieë het ’n daling getoon. Dié uitgelekte syfers is polisiestatistieke oor 10 maande, van April 2013 tot Januarie 2014.