MOTOR NUUS - Ekonome is versigtig optimisties dat voertuigverkope vanjaar ietwat beter sal wees as in 2017.
In dié jaar is 368 068 passasiermotors verkoop en projeksies verwag 'n totaal van 375 000 aan die einde van 2018. Ligte handelsvoertuie – bakkies en paneelwaens – het eweneens goed presteer met 163 368 verkope, terwyl hierdie total aan die einde van hierdie jaar by nagenoeg 170 000 behoort te draai.
Na verwagting sal die 2017-totaal (557 586) in 2018 die 572 000-kerf bereik.
Onder die individuele vervaardigers was Toyota weer eerste onder die Toptien met
9 958 eenhede wat van die hand gesit is. Toyota se presteerders was die algehele topverkoper Hilux (3 382) en ewe knap vertonings deur Fortuner (1 108), Corolla/Auris/Quest op 1 140 en Etios op 954 eenhede.
Die groep se luukse handelsmerk, Lexus, het maar gesukkel en kon slegs 62 voertuie van die hand sit.
Desember se groot verrassing was egter dat Volkswagen, wat nog altyd tradisioneel in die tweede plek van die toptien was, deur Ford getroef is.
Ford se getal van 5 431 was weliswaar slegs 88 eenhede meer as dié van Volkswagen.
Ford se uitblinkers was oudergewoonte Ranger op 2 681 verkope, EcoSport (892) en Fiesta op 522.
Kopers byt nog steeds langtand aan Kuga (66), terwyl Mustang goed presteer het met 44 verkope.
Volkswagen (5 343) lek darem die lippe af vir die impak wat die nuwe Polo en Polo Vivo op die mark gaan hê, maar maak intussen staat op hierdie twee modelle se verminderde syfers van 1 230 (Vivo) en 1 028 (Polo).
Die groep se Audi-divisie het ook goed gevaar met 552 verkope. Daar moet nogtans in gedagte gehou word dat Audi al by geleenheid kort duskant die 1 000 eenhede per maand gedraai het.
Die Golf 7 staan sterk op 437 verkope, maar die Naamsa-syfers dui geen verkope vir Tiguan aan nie.
Vierde plek behoort steeds aan Nissan (4 004) danksy veral Micra (415), NP200 (1 040) en NP300 op 869 verkope.
Weer in die vyfde plek, maar met 'n beskeie totaal van 2 336, slaag Hyundai net-net daarin om Renault (2 184) te troef.
Tucson het mooi presteer met 506 verkope, en so ook Grand i10 met 503, terwyl Tucson se kleinboet – Creta – self 425 harte gesteel het.
Renault staan sterk in die sesde plek met 2 184 eenhede én die prestasie wat hy deel met BMW, as die enigste van van die Toptien wat beter gevaar het as in November.
Renault se presteerders is Kwid (1 120) en Sandero II op 341 – 'n duidelike teken dat kopers toenemend kleiner en goedkoper kies wanneer dit by die koopbesluit kom.
Mercedes-Benz se 1 725 verkope besorg aan hom die sewende plek, terwyl KIA (1 618) heel goed vaar danksy Rio (508) en Picanto op 656 eenhede verkoop.
Isuzu (voorheen General Motors) sal besorg wees oor sy totaal van 1 379. In November was Isuzu sesde met 2 670 eenhede verkoop, maar moes plekke ruil met Renault.
Die groep se Opel-handelsmerk het gesorg vir 106 verkope, terwyl Isuzu KB altesame 903 verkope kon aanteken.
BMW, wat in November buite die toptien beland het, is terug in die prentjie met 'n totaal van 1 372 – sonder om individuele modelverkope bekend te maak.
Onder die kleiner vervaardigers en invoerders buite die toptien, het Bentley goed gevaar met sewe verkope, Porsche met 152, Maserati met 18 en Ferrari met 10.
Jaguar/Land Rover se 506 verkope (91 onder die Jaguar-handelsnaam) was heel goed, terwyl Volvo beter sal wil vaar as 139 eenhede wat verkoop is.
Vir die Swede behoort die skitterende nuwe XC40 binnekort die bordjies te verhang.
Mazda (1 112) en Suzuki (742) vaar steeds goed, maar Honda (499) behoort veel beter te vaar en benodig dringend opwindende nuwe modelle om die verbeelding aan te gryp.
Die uitvoermark verdien ook meer aandag en daar word verwag dat 2018 se uitvoere van 329 053 eenhede na sowat 366 000 kan verbeter.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'