Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die Suid-Kaapse Oumotorklub het onlangs by dié dorp aangedoen op hul pad na Ceres.
Die blinkswarte in die parkeerplek van die vulstasie het al wat 'n reisiger is se aandag getrek. Sien, dit is 'n Bentley. Lede van die motorklub het reeds Vrydagoggend 21 September vertrek.
Hierdie jaar het die program 'n toer van dorpe aan die Weskus om die blommeprag te besigtig ingesluit. Deelnemers het Vrydag by Matroosberg 4x4 buite Ceres saamgetrek. Die volgende dag het die toer na die Weskusdorpe oor Malmesbury, Darling en Yzerfontein na Velddrif, waar hulle oornag gestrek. Hulle het na Piketberg en Leopoldtville op Sondag 23 September vertrek waar die groep by Lambertsbaai oornag het.
Altesaam 51 deelnemers in 27 voertuie, wat tussen 1815 en 1975 vervaardig is, het aan die toer deelgeneem.
Seldsame motors soos die 1957 Morris Minors 1000's, 'n vintage Studebaker Champ-bakkie, die Borgward Coupe, 1948 Chevrolet en die Pontiac Bonneville het net soveel aandag geniet as die blommeprag van die Weskus. Moenie praat van die Model T-Fords nie.
Die eienaar van die Bentley, André Fourie, het sy eerste lang toer met die Bentley onderneem wat lank gestaan het voor hy dit padwaardig gemaak het.
Dié motor is van Londen oorgebring en Fourie is nou sy derde baas. "Ek is eintlik 'n Mercedes-Benz man, maar oor hierdie motor is ek baie sentimenteel. Hy is nou al 25 jaar in my besit," het Fourie trots gesê.
Op Erfenisdag het hulle oor Clanwilliam, Citrusdal, oor Piekenierspas na Porterville, terug na die oorstaanplek by Matroosberg gery. Die toer is daar afgesluit met 'n gala-aand.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'