Die vreugde is oor die toekoms en die verwagting van geluk wat mens met die bruidspaar deel.
Die feit dat jy gevlei voel, is vanselfsprekend - hulle aanvaar dat jy iewers 'n hand kan lê op 'n statige en elegante motor - met ander woorde dat jy invloed iewers kan uitoefen al ry jy self nie juis iets noemenswaardig nie.
Die derde emosie - kommer - is meer ingewikkeld. Wanneer en waar is gegewe elemente waaroor jy self geen beheer het nie en waarmee jy gelukkig net hoef in te val, maar hóé jy dit gaan benader en wat om te oorweeg, is nogal 'n verantwoordelikheid en 'n raaisel.
OMDRAAI-KANS
Die enigste voorwaarde wat die Suid-Kaapse Motorgids stel, is dat die bruid tot voor die kerkdeur haar omdraai-bonuspunt mag speel.
As sy besluit om liewer 'n roomys op 'n volstruisplaas te gaan eet as om die seremonie deur te sien, dan is dit wat ek moet doen. Die familie moet belowe om hierby in te val en hulle glimlag almal geheimsinnig terwyl hulle instem. Wel - ons het darem die keuse op die tafel gesit!
Skielik kyk jy met 'n ander oog na alle motors. Is hulle statig genoeg, sal hierdie of daardie model die beste wees? Groot genoeg met kophoogte vir sluiers en kapsels. Gelukkig hoor ons vooraf dit is 'n streamline-trourok, baie now, lei jy af. Gelukkig is dit somer. Gelukkig is dit 'n toe motor, maar ongelukkig is daar geen waarborg vir die weer in die Suid-Kaap nie.
Gelukkig soos met baie ander dinge, kom die oplossings een vir een. Die eerste is 'n ondubbelsinnige versoek van die bruid - dit moet asseblief 'n Audi wees. Die tweede antwoord kom van die handelaar met wat die beste en geskikste motor vir die doel is. En jy mag dit vir 'n paar uur gebruik.
Later sien jy verstom dat al die ampsmotors van die dag ook Audi is. Dalk iets met die now-faktor of die elegansie van die hele idee van trou, begin jy vermoed.
AFTELLING
'n Chauffeuragtige uniform word geprakseer, 'n pet word geleen, jy kry musiek wat sal pas by die geleentheid. En I want to break free van Freddie Mercury - net ingeval. Maar jy onthou die familie se Mona Lisa-glimlagte en jy sit dié CD maar byvoorbaat dieperig in die paneelkissie.
Die wagwoord is vir ons soos enige groot geleentheid - begin vroeg. Ons haal dus die pragtige blink Audi A6 vroegtydig van Tavcor, Yorkstraat in George. Dit is beslis 'n mooi motor.
Op pad huis toe, bereken ons die plus-faktore vir die geleentheid. Dis beslis statig en elegant genoeg, formeel en dit voel presies reg vir 'n groot geleentheid. Sterk ook, net as dit dalk sou saakmaak.
Die agterste deur maak wyd oop vir 'n mooi rok en die voorste passasiersitplek sal nie gebruik word nie. Die maksimum-ruimte word dus agter voorberei en daar is baie plek. Twee verskillende mans - pa kerk toe en bruidegom na die onthaal toe - sal sommer maklik op hul sitplek inpas en in elk geval is dit die bruid se dag, hulle moet dus net stilsit, saamry en hul rol reg speel.
Die klankstelsel is net reg en verstel sodat die musiek feestelik is, maar nie oorheers nie. Priesters en predikante maak soms sterk kapsie teen Mendelssohn se weergawe vir 'n bruid onder die invloed. Die bruid op hul beurt voel weer "nie regtig getroud" as die troumars nie gespeel word nie, dit word dus bo ingepak. Nota aan myself - die klankstelsel is werklik puik!
GEDANE SAKE
Die koeël is nou deur die kerk en die egpaar se huweliksbootjie is behoorlik gelanseer. Ons ry teen 'n lekker pas voor 'n hele opmars van Audi's na die onthaal.
Die verligting is groot en dit lyk of die bruidspaar nou ook kan begin ontspan en hul groot dag regtig geniet.
Op die bruid se groot dag het alles goed verloop en noudat net die bruidsmotor veilig terug besorg hoef te word, begin ons die toetsrit ook regtig geniet. Sal 'n glasie op die tweetjies klink as al die parkeer en oorhandiging verby is.
HARDE FEITE
Die model : AUDI A6 2.0 TDI 130kW MULTI; kleur: Dakota-grys met bekleedsel in titanium- en staalgrys. Die ekstra's: 'n sportonderstel, elektriese voorste sitplekke met geheue, sondak en Xenon Plus hoofligte. Die prys met ekstra's is R546 329. Die motor is aan ons beskikbaar gestel deur Tavcor in Yorkstraat, George. Om dit te besigtig of 'n toetsrit te reël, skakel 044 874 4193.
Die bruid het gestap vanaf die klein voorhekkie van die Klipkerk in Pacaltsdorp.
Die bruid se keuse was 'n Audi en hierdie was 'n statige en elegante bruidmotor.
ARTIKEL EN FOTO'S: ANICA KRUGER