Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Noodlottige ongeluk op die N2 net buite die dorp het die lewe van 'n vrou geëis.
Thembeka Mbambaza (40) van Delft in Kaapstad, is omstreeks 20:30 Sondag 7 April dood na 'n botsing sowat 3 km buite die dorp in die rigting van Heidelberg.
Die trompop botsing tussen 'n wit Fiat en grys Chevrolet is veroorsaak toe een van hulle 'n vragmotor probeer verbysteek.
Die ernstig beseerde Mbambaza was in die Uno vasgekeer en moes met meganiese toerusting verwyder word. Sy het op pad hospitaal toe in die ambulans aan haar beserings beswyk. Die bestuurder van die Uno en nog 'n passasier is in die hospitaal opgeneem. Een van hulle is steeds in George-hospitaal, maar Riversdal-polisie kon nie name verskaf nie.
Een van die insittendes van die Chevrolet is in Mosselbaai-hospitaal opgeneem. Die ander twee is net lig beseer. Die vragmotor is ook in die botsing beskadig, maar die bestuurder is ongedeerd.
'n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
Sien 'n vorige artikel hier: Vrou sterf in ongeluk op N2
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'