SKOLE NUUS - Die Covid-19-regulasies wat op 29 April vir skole afgekondig is, bepaal dat buitemuurse aktiwiteite en kontaksport (ook wedstryde tussen verskillende skole) mag hervat, maar sonder toeskouers.
Die implikasie is dat ouers dus nie wedstryde of oefensessies mag bywoon nie. Mense bevraagteken die sinvolheid hiervan.
"Kinders mag mekaar duik en saamsing in 'n koor, maar hulle mag nie langs mekaar op dieselfde skoolbank sit nie. Ons skud maar net ons kop. Dit maak absoluut geen sin nie," sê Jaco Deacon, adjunk- uitvoerende hoof van Fedsas (die nasionale verteenwoordigende organisasie vir beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole), in 'n radio-onderhoud op die radioprogram RSG.
Die Nasionale Onderwysdepartement beraadslaag wel vandeesweek oor verdere verslapping van Covid-19-maatreëls vir skole, wat moontlik kan beteken dat laerskoolleerders nie meer op 'n rotasiebasis hoef klas te loop nie.
Volgens Deacon is die rotasie van klasse geweldig ontwrigtend en die terugkeer "heeltemal te laat". Hy meen die volledige heropening van laerskole sal sin maak omdat kinders se risikoprofiel volgens kenners baie laer is. Hoërskole kan ingesluit word, sou so 'n besluit geneem word.
"Sedert September verlede jaar maak die direktiewe al voorsiening dat skole wat die 1 meter afstand kan handhaaf 100% kan oopgaan, maar daar is steeds 'n klomp skole wat dit nie kan doen nie, weens spasiegebreke," sê hy.
'n Paar skoolhoofde met wie George Herald gesels het, sê hulle doen onder die omstandighede wat hulle kan om almal te probeer veilig hou terwyl skoolwerk voortgaan.
'Helfte van kinders sit klasse reeds vol'
Hibernia Primêre Skool se hoof, Wilbur Pedro, sê dis 'n uitdaging om sosiale afstand tussen leerders te hou, selfs op 'n rotasiebasisstelsel. "Ons probeer kinders sover moontlik spasieer, maar die helfte van die leerders sit die klasse reeds vol. Die skool is in 1955 gebou en destyds was daar gemiddeld 30 kinders per klas vergeleke met tot 45 per klas deesdae."
Die skool is egter deurgaans streng met die toepassing van Covid-protokolle, ook elke keer wanneer klasse gewissel word. Pouses is die kinders ook onder toesig van onderwysers. Sport is nog nie hervat nie.
Charlie Bob, voorsitter van Hibernia se beheerraad, verwelkom nie die volledige heropening van laerskole nie weens die risiko wat dit vir die personeel kan inhou. "Ek glo dit moet wag totdat die personeel volledig ingeënt is," sê hy.
Eksperiment by Hoërskool Outeniqua
Hoërskool Outeniqua se hoof, Christo Vorster, sê alle matrieks moet reeds by die skool wees ingevolge die regulasies, maar die skool doen vir die eerste 12 skooldae van die tweede kwartaal 'n eksperiment deur die matrieks plus twee grade terug te bring.
"Die ander twee grade kom elke tweede dag. Dus sal daar vir die eerste 12 skooldae elke dag 75% van die leerders by die skool wees."
Verder poog die skool om enige agter-stande in die kurrikulum in te haal deur deeglike beplanning en harde werk in die klas. Saalbyeenkomste word tans vervang deur sekere groepe op die pawiljoen bymekaar te kry.
Baie leerders het hulle sport- en kultuur-aktiwiteite hervat - met die handhawing van Covid-19-regulasies. Netbal- en rugbyspanne het reeds wegwedstryde gespeel en drie leerders neem vandeesweek deel aan die ATKV-finaal vir toneel in die Kaap.
Afgebakende blokke tydens pouse
Laerskool George-Suid se hoof, Sas du Plessis, sê hulle het spansportoefeninge hervat onderhewig aan streng Covid-19-protokol. Sanitering geskied voor, tydens en na oefeninge. Geen ouers word binne die skoolterrein toegelaat nie.
Tydens pouses word die kinders in spesifiek afgebakende blokke op die terrein toegelaat onder toesig van die onderwysers.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'