RIVERSDAL NUUS - Die gr. R-leerders van Voorwaarts Primêr het Vrydag 7 Augustus hul toekomsplanne op ’n prettige en kleurvolle manier verken tydens die skool se jaarlikse Loopbaandag.
Die jong leerders het aangetrek soos die beroepe wat hulle eendag graag wil beoefen.
Die klaskamer het behoorlik in ’n verskeidenheid beroepe verander, met toekomstige dokters en ander mediese personeel, brandweermanne, kokke, tandartse, nutsmanne, vlieëniers, landdroste, polisiebeamptes, soldate en sakemanne en -vroue wat die dag opgevrolik het.
Die entoesiastiese gr. R-leerders het gewys dat hulle reeds groot drome vir hul toekoms het.
Met nog sowat 12 jaar se skoolopleiding voor hulle, het dié jongspan reeds ’n goeie idee van wat hulle eendag wil word.
Die Loopbaandag het die leerders die geleentheid gebied om op ’n prettige manier oor verskillende beroepe te leer en hul verbeelding te gebruik om oor hul toekoms te droom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’