RIVERSDAL NUUS - Twee jong redenaars van Laerskool Volschenk het die Suid-Oos-Kaap op die nasionale ATKV-redenaarsverhoog laat kennis neem van hul besondere talent deur albei onder die top-10 in Suid-Afrika in hul onderskeie afdelings te eindig.
Milanic Gunter, 'n gr. 2-leerder, en Zak de Kock, 'n gr. 3-leerder, het hul skool en streek met groot onderskeiding by die ATKV-redenaars se landsfinaal by Klein Kariba in Warmbad verteenwoordig.
Slegs 137 laerskoolleerders van regoor Suid-Afrika het die nasionale eindronde gehaal, wat die Volschenk-tweetal se prestasie des te meer besonders maak.
Milanic en Zak was boonop die enigste twee leerders uit die hele Suid-Oos-Kaap wat tot die eindronde deurgedring het.
Vir Zak was dit sy eerste jaar op die redenaarspodium.
Hy en sy tweelingsussie, Izabella, het vanjaar vir die eerste keer aan redenaars deelgeneem.
Zak het die ATKV se halfeindronde in sy afdeling gewen, terwyl Izabella 'n uitstekende 10de plek behaal het.
Die redenaarskap blyk egter in die De Kock-gesin se bloed te wees.
Die tweeling volg in die voetspore van hul ouboet, Zian, tans 'n gr. 7-leerder, wat reeds in gr. 3 aan die Radikale Redenaars se eindronde in Johannesburg deelgeneem het.
Toe Zak besluit het om aan redenaars deel te neem, was sy eerste vraag aan sy ma veelseggend: "Mamma, hoeveel keer moet ek praat om te vlieg?"
Hy het natuurlik bedoel: om tot 'n eindronde deur te dring.
Die selfversekerde jong redenaar glo dat kompetisie goed is vir kinders.
Volgens hom sou die Springbokke ook nie so hard gewerk het om drieë te druk as punte nie getel het nie.
Sy lewensleuse is eenvoudig: "Gaan groot of gaan huis toe!"
Zak sê hy het nie noodwendig ure geoefen nie, maar dat hy eenvoudig daarvan hou om te redeneer en sy sê te sê.
Solank daar nie te veel met hom "gekarring" word nie, praat hy maklik.
Milanic het daarenteen reeds van graadeen af aan redenaars deelgeneem.
Sy is die oudste kind in die gesin en volgens haar ma, 'n regte "gladdebek" wat nog nooit skaam was om voor mense te praat nie - of daar nou een persoon of 'n hele gehoor voor haar staan.
Sy skryf haar gemak voor 'n gehoor toe aan die talent wat Jesus aan haar gegee het om sonder vrees voor mense te kan praat.
Milanic het vanjaar ook aan Radikale Redenaars en Oppi Tong Af deelgeneem en het in albei kompetisies tot die eindronde deurgedring.
Die Oppi Tong Af-eindronde word in Oktober in Gauteng aangebied.
Vir die ATKV-eindronde het Milanic 'n toespraak oor die tema "Pleister" gelewer, met die onderwerp: "Soms moet kinders die pyn voel."
Die twee jong redenaars se sukses is die resultaat van harde werk, voorbereiding, selfvertroue en natuurlike redenaarstalent.
Hul ma's, dr. Initza Maartens en Suné Gunter, asook die breë gemeenskap, is besonder trots op Milanic en Zak se uitsonderlike prestasie.
Van Riversdal tot die nasionale verhoog het die twee jong Volschenk-redenaars gewys dat groot talent nie noodwendig groot ouderdom vereis nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’