Update Video
STILBAAI NUUS & VIDEO - Gebrekkige kommunikasie in landelike gebiede, veral in die geval van nood, bly 'n kopseer.
"Telkom-kabels wat voortdurend gesteel word en beperkte selfoonopvangs skep 'n ernstige sekuriteitsprobleem,"
sê Allison Bryant, voorsitter van die Stilbaai-gemeenskapspolisiëring-subkomitee (GPSK), wat 'n vergadering gereël het in 'n poging om oplossings vir die probleem te vind.
Die vergadering op 26 Maart op die plaas Jongensdal in die Blombos-gebied is goed deur inwoners van die landelike gebied, GPSK-koördineerders en lede van die SA Polisiediens bygewoon.
Verteenwoordigers van diensverskaffers Telkom, Easycoms, Vodacom Stilbaai en Wispernet/Hilbert Electronics, is genooi om die vergadering by te woon en oplossings voor te stel. Laasgenoemde twee het dit bygewoon.
Johan Crous, 'n sakeman van Riversdal, voorsitter: veiligheid van AfriForum in Hessequa en ook die eienaar van Vodacom Riversdal, werp meer lig op die bestaande kommunikasienetwerk in die landelike gebiede.
"AgriForum se Goukou-plaaswag het in Junie 2018 tot stand gekom. Sedertdien het sowat 80 boere by die plaaswag aangesluit en 85% van die Hessequa-gebied is met behulp van tweerigtingradio's in verbinding met mekaar, die plaaswag en die polisie."
Die radiosisteem beskik oor twee kanale, naamlik 'n noodkanaal, wat uitsluitlik bedoel is vir noodsituasies en wat uit 'n bemande beheerkamer beheer word, en 'n kanaal wat deur plaaswagpatrollies gebruik word vir kommunikasie met die boere en polisie.
"Ons het verlede week 'n verdagte voertuig wat met kabeldiefstal verbind word, in ons gebied opgemerk. Die plaaswag het baie vinnig die voertuig opgespoor en 'n verdagte in hegtenis geneem. Hy is aan die polisie oorhandig en is in aanhouding."
Lohan Oosthuizen van Wispernet/Hilbert Electronics het tydens die vergadering alle moontlike moderne kommunikasiemiddels, van tweerigtingradio's tot die nuutste internet-gebaseerde tegnologie, toegelig. "Die enigste sinvolle wyse om kommunikasie te verseker en sodoende die sekuriteitskwessie aan te spreek, is om tweerigtingradio's te gebruik," beaam hy wat Crous sê.
"In 'n noodsituasie het 'n mens nie tyd om 'n WhatsApp-boodskap te tik en aan die regte groep te stuur nie, want elke sekonde tel. In baie gebiede is daar in elk geval nie selfoonoopvangs nie. Jy moet by 'n selfoonnetwerk ingeskakel wees en data hê voor jy kan kommunikeer. 'n Tweerigtingradio verskaf met die druk van 'n knoppie onmiddellike kommunikasie en werk met of sonder 'n netwerk."
Kyk 'n video hieronder:
Tweerigtingradio's kan moontlik 'n oplossing vir gebrekkige kommunikasie in landelike gebiede waar nie selfoonopvangs is nie, bied. Foto: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel hier: Blombos soek betroubare kommunikasie
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'