Update
SUID-KAAP NUUS - Die dwelm tik ken nie kleur, ras of status nie.
"Dit gebeur nie net met bruin of arm mense nie. My seun het dagga begin rook en later aan tik verslaaf geraak. Dit het sy lewe vernietig," het 'n bekende wit vrou in die Hessequa-streek vertel. Haar familie besit verskeie besighede en is ook bekende boere.
Soos meeste tieners het hy op skool met dagga en verskeie gelowe begin eksperimenteer.
Foto's van haar seun met 'n sprankelende glimlag en blou oë is oral in die huis sigbaar. "My kind is so lief vir diere en gee vir almal om. Hy was vir 'n rukkie getroud, maar sy vrou, wat hom verkul het, het hom gebreek. Terwyl hy alleen geboer het, het hy tik begin gebruik. Ek glo dit was seker sy manier om te ontvlug."
Die middeljarige vrou se oë skiet vol trane. Sy weet niks van dwelms of hoe om dié situasie te hanteer nie. Sy het haar seun verskeie kere uit dwelmhuise gaan haal. Hoe meer verwerping hy ervaar het, hoe meer dwelms het hy gebruik. Hy wou nie self na 'n rehabilitasiesentrum gaan nie. Omdat hy weer by hulle in die huis gewoon het, nie gewerk het nie en steeds 'n verslaafde was, het hy aggressief teenoor sy ma begin word wanneer sy nie vir hom geld vir dwelms wou gee nie.
"Dit is die moeilikste besluit wat ek nog ooit moes neem. Of hy gaan rehab toe, of ek moet 'n interdik teen hom kry en hy sal ons huis moet verlaat. Al moes hy uit ons huis gaan, het ek steeds 'n heenkome vir hom gesoek. Ek het tot die Here geroep en by Hom gepleit en gesmeek. Ons het 'n plekkie vir hom gekry waar hy nie sommer maklik tik sou kon bekom nie. Sy hondjie kon saamgaan en daar was geen selfoonopvangs nie. Hy het met dagtakies gehelp en net sy Bybel gehad om te lees."
Hy het later ingestem om na 'n rehabilitasiesentrum te gaan. Terwyl hy daar was het hy 'n ondersteuningsnetwerk ontdek en was dit moontlik vir hom om vry te kom.
"Ongelukkig het my kind baie verkeerde besluite geneem terwyl op dwelms was. Die gevolge van daardie besluite is die volgende hekkie wat ons sal moet oorkom. Ondersteuning en liefde van soveel verskillende mense het my gedra. Met gebed en smeking kon ons oorwinning bereik. Elke ouer moet net moed hou."
Haar raad vir ander ouers is dat hulle nie hul kinders moet ignoreer of dit ligtelik opneem wanneer hulle leerprobleme het of sukkel om te konsentreer op skool nie. "Baie kinders soek ander afleiding en dan eindig dit by dwelms."
Tot en met Mei vanjaar is haar kind steeds dwelmvry.
Lees 'n vorige artikel hier: Dwelms - Die 'tik'kende tydbom
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'