STILBAAI NUUS - Sanet de Bruin het Saterdag 27 Oktober vir die 10de keer aan die Kasselshoop Farm Run deelgeneem en dit voltooi.
Dié plaasdraf het in Februarie sy ontstaan gehad en het in sy eerste bestaansjaar uit 'n reeks van 10 byeenkomste bestaan, wat beteken dat De Bruin die eerste en enigste persoon is om hierdie besonderse mylpaal te bereik.
Die draf het ná 'n week van uiterste hitte, in koeler en effense winderige toestande plaasgevind. Die 6 km-roete is deur 'n matriekleerder van die omgewing, Jeffrey Saaiman, in 'n tyd van 26 min. 48 sek. kafgedraf. Hy is deur Cheivino September gevolg, met sy jonger broer, Shelton Saaiman wat derde was. Gerrit Meyer, wat vir die eerste keer deelgeneem het en Chris Benade het die top vyf afgerond.
Shelsley van Zijl het heel goed tydens háár eerste deelname gevaar deur die eerste dame by die einde te wees. Sy is deur Michelle Pretorius gevolg, met Lizette Cronje derde, Arissa Cronje vierde en Sanet de Bruin vyfde. Die plaasdraf-reeks bied aan drawwers, stappers en sosiale deelnemers die geleentheid om elke laaste Saterdag van die maand 'n 5 km-roete in die veld aan te pak en te voltooi soos dit elkeen pas.
Die ren wat vir 24 November geskeduleer was, gaan egter nie aangebied word nie omdat heelwat deelnemers aan die jaarlikse Vlakte Marathon, wat tussen Heidelberg en Witsand plaasvind gaan deelneem.
Vanaf 1 Desember gaan dit gedurende die vakansie meer gereeld aangebied word sodat besoekers en vakansiegangers ook die geleentheid kan kry om in dié plaaservaring te deel. Inligting is beskikbaar by www.mystilbaai.co.za.
Jeffrey Saaiman, ’n landloopatleet van die omgewing was die eerste deelnemer by die einde.
Lees 'n vorige artikel: Plaasdraf hardloop sy 10de draf kaf
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'