RIVERSDAL NUUS - Met die heengaan van Bredenand John Horn, ook bekend as Boetie, op 19 April, is nog een van die skakels in die kettings van die dorp se geskiedenis gebreek.
Boetie is op 19 Junie 1950 uit die huwelik van Paul, bekend as Boy, en Sophia Horn gebore.
Hy het by St. Andrews Engelse skool op Riversdal skoolgegaan en gr. 7 by St. Barnabas Engelse skool op Heidelberg voltooi. Sy pa het by die destydse SA Spoorweë en Hawens gewerk, dié dat die gesin verhuis en hy van skool verander het.
Boetie het die skool op 12-jarige ouderdom verlaat en as algemene werker op die plaas Boontjieskloof vir Midlands Oil gaan werk. Die maatskappy het konsessieregte vir die ontginning van olie, wat op die plaas ontdek is, verkry. Die prospekteerwerk was weens finansiële redes onsuksesvol en is in 1970 gestaak. In die vroeë sewentigs het hy, soos sy pa in sy fleur, vir Riversdal Blues-rugbyklub as flank gespeel.
Boetie het later motorwerktuigkundige geword en vir Transnet gewerk. Na sy aftrede is hy by Kruisrivier Primêr as nutsman aangestel.
Sy dankseggingsdiens is Saterdag 27 April vanuit die St. Andrews Anglikaanse kerk gehou. Eerw. Noel Weber het die diens waargeneem. Boetie is privaat veras.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'