Update
SUID-KAAP NUUS - Die stryd om die afsnydatum van 2012 vir aansoeke om pensioenvoordele vir voorheen benadeeldes verleng te kry sodat meer benadeelde staatswerkers geleentheid kry om aansoek te doen, het 'n onverwagse hupstoot gekry.
Die vorige minister van staatsdiens en administrasie, Ayanda Dlodlo, het so onlangs soos 31 Julie verlede jaar, uitgetrede benadeelde staatsdiensamp-tenare uitgenooi om hulle pensioenaansoeke aan die GEPF (Government Employees Pension Fund) voor te lê.
Volgens haar was daar toe nog 'n totaal van 17 271 gevalle van onbetaalde voordele, en 'n verdere 26 919 onopgeëisde voordele. Die berig is deur African News Agency versprei en is op die IOL-webwerf (www.iol.co.za) beskikbaar.
Daar word nou gevra of Dlodlo (nou minister vir staatsveiligheid) reg opgetree het om so 'n oproep te maak in die lig daarvan dat 'n ooreenkoms toe reeds met vakbonde gesluit was. Vrae word ook gevra waarom die onderwysvakbonde tóé nie meer vir hul lede kon doen nie. Vakbonde is nou aan die spits om die nuwe beweging, die PSPRM (Public Servants Pensions Redress Movement) uit te kryt as uitbuiters wat pensioenarisse blykbaar mislei.
Daar is 'n sameroeper in elke dorp in die Wes-Kaap waar aansoekers is wat vorms beskikbaar maak en elkeen noukeurig nagaan, in koeverte verpak en dan persoonlik na die naaste versamelpunt vervoer. Daarvandaan sal dit deur die leierskap self na die kantore van GEPF geneem word. Vir die administrasie hieraan verbonde, wat aankope, petrolgeld en vergaderings bywoon insluit, word in elke dorp gevra dat aansoekers R20 bydra. Dis juis hieroor wat vakbonde bekommerd is en hul lede teen geldelike uitbuiting waarsku.
Dit wil voorkom of hierdie beweging verder gaan uitkring en meer omvattend gaan raak as net pensioenvoordele. Dr. David Piedt, gerespekteerde opvoedkundige en gemeenskapsleier van Oudtshoorn, het in 'n onlangse onderhoud op 'n radiostasie gesê dat die stryd om geregtigheid vir voorheen benadeeldes moontlik kan uitbrei na die opeising van regte op alle ander vlakke van die samelewing.
Lees 'n vorige artikel hier: Pensioensage duur voort
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'