HESSEQUA NUUS - Hessequa-munisipaliteit doen 'n beroep op die inwoners om water spaarsamig te gebruik.
In die geval van Heidelberg en Slangrivier word rou water vir suiwering uit die Duivenhoksrivier, nie die Duivenhoksdam nie, deur Overberg Water onttrek.
“Die afgelope paar weke was die munisipaliteit genoodsaak om water met trokke na Heidelberg en Slangrivier aan te ry, omdat die watertoevoer vanaf Overberg Water wisselvallig was en die munisipaliteit soms geen water ontvang het nie.
“Hessequa Munisipaliteit is tans in gesprek met Overberg Water rakende die watersituasie, wat deurgaans streng gemonitor word,” het Didi Budricks, hoof van openbare betrekkinge & administrasie gesê.
Water is 'n kosbare kommoditeit en waterbesparing moet 'n leefstyl wees, nie net tydens droogte nie.
Die volgende waterbeperkings is tans van toepassing:
Vlak 3 Waterbeperkings: Albertinia, Heidelberg & Slangrivier
- Tuine mag net een keer per week tussen 17:00 en 18:00 natgemaak word waarvan die gelyke straatnommers op Dinsdae en die ongelyke straatnommers op Donderdae natgemaak mag word. Hierdie bepaling vervang alle vorige vergunnings vir die natmaak op ander tye.
- Tuinslange onder toesig, emmers, gieters en outomatiese besproeiingstelsels vir die natmaak van tuine mag gebruik word op voorwaarde dat dit binne die toegelate tydgleuf gebeur.
- Indien ander bronne soos reënwater tenks of boorgate gebruik word, moet dit op ‘n sigbare wyse aangedui word.
- Ouetehuise, kwekerye en karwasbesighede word uitgesluit van hierdie beperking.
- Die lewering van munisipale dienste, wat sportfasiliteite en munisipale bates insluit, is uitgesluit by bogenoemde beperkings en sal op ad-hoc basis bestuur word deur Administrasie.
- Die situasie in bogenoemde dorpe sal gemonitor word en strenger beperkings sal ingestel word indien die toestand van waterbronne versleg.
Vlak 2 Water Beperkings: Gouritsmond, Stilbaai, Melkhoutfontein, Jongensfontein, Witsand & Riversdal
- Tuine mag net twee keer per week natgemaak word, waarvan die gelyke straatnommers op Maandae en Donderdae en die ongelyke straatnommers op Dinsdae en Vrydae natgemaak mag word tussen 17:00 en 18:00. Hierdie bepaling vervang alle vorige vergunnings vir die natmaak op ander tye.
- Tuinslange onder toesig, emmers, gieters en outomatiese besproeiingstelsels vir die natmaak van tuine, mag gebruik word op voorwaarde dat dit binne die toegelate tydgleuf gebeur.
- Afspuit van verharde oppervlaktes word verbied.
- Was van voertuie, karavane en bote mag slegs deur middel van ‘n emmer gedoen word.
- Indien ander bronne soos reënwater tenks of boorgate gebruik word, moet dit op ‘n sigbare wyse aangedui word.
- Ouetehuise, kwekerye en karwasbesighede is uitgesluit van hierdie beperking.
- Die lewering van munisipale dienste, wat sportfasiliteite en munisipale bates insluit, is uitgesluit by bogenoemde beperkings en sal op ‘n ad hoc basis bestuur word deur Administrasie.
- Dit vervang vorige beperkings.
- Die situasie in die verskeie dorpe sal gemonitor word en strenger beperkings sal ingestel word indien die toestand van waterbronne versleg.
- Dat skriftelike versoeke vir die afspuit van huise se dakke met ‘n hoëdruk spuit, goedgekeur word, maar sou die vlak van die Korentepoortdam (Riversdal) tot 50% en laer daal, geen versoeke verder goedgekeur word nie [hierdie is slegs van toepassing op Riversdal].
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'