HESSEQUA NUUS - Waterbeperkings wat die natspuit van tuine beperk, is ingestel ten spyte daarvan dat damvlakke in die streek stadig maar seker styg.
Hoewel goeie reëns die afgelope tyd op baie plekke in die streek geval het, is die droogte nog nie gebreek nie en water moet steeds spaarsamig gebruik word.
Volgens 'n raadsbesluit is aangepaste vlak 2-water-beperkings vir hele gebied ingestel.
Die volgende bepaling vervang alle vorige vergunnings vir die natmaak van tuine op ander tye en geld vir die hele Hessequa-gebied.
- Tuine mag slegs twee keer per week tussen 18:00 en 19:00 natgemaak word – gelyke straatnommers op Maandae en Donderdae, en ongelyke straatnommers op Dinsdae en Vrydae.
- Tuinslange (onder toesig), emmers, gieters en outomatiese besproeiingstelsels mag gebruik word, mits dit binne die toegelate tydgleuf gebeur.
- Afspuit van verharde oppervlaktes word verbied.
- Was van voertuie, karavane en bote mag slegs met behulp van 'n emmer gedoen word.
- Indien ander waterbronne soos reënwatertenks of boorgate gebruik word, moet dit op 'n sigbare wyse aangedui word.
- Vergunnings sal oorweeg word vir byvoorbeeld ouetehuise.
- Die lewering van munisipale dienste, wat sportfasiliteite en munisipale bates insluit, is uitgesluit van bogenoemde beperkings en sal op 'n ad hoc-basis deur administrasie bestuur word.
Volgens die munisipaliteit sal die situasie in die onderskeie dorpe gemoniteer word en, indien die droogtetoestand nie verlig word nie, sal strenger beperkings ingestel word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'