Update
STILBAAI NUUS - Sigbare buurtwagpatrollies is een van die beste maniere om misdaad hok te slaan. So sê Pieter Lategan, hoof-köordineerder van die Stilbaai-, Jongensfontein- en Melkhoutfontein-buurtwagte.
Hoewel die lede tot hul huise beperk was tydens inperking, het hulle met observasiedienste vanuit hul wonings voortgegaan. Normale patrollies is sedert die begin van Julie hervat, toe toestemming daarvoor onder vlak 3 inperkingsregulasies gegee is.
Ekstra patrollies wat op versoek van Stilbaai-polisie gedurende die naweek van Vrydag, 7 Augustus tot Sondag, 9 Augustus gedoen is, het 'n doodstil en rustige langnaweek op die misdaadfront vir die dorp verseker.
Lategan sê hulle het tussen middernag en 05:00 die volgende oggend gepatrolleer. "'n Totaal van 32 ekstra patrollies is gedurende die 72 uur deur 46 persone gery. Die verskillende patrollies het Sondagoggend omstreeks 01:00 op die brug bymekaar aangesluit en inligting is vanaf die plaaswag aan die dorpsbuurtwagte oorgedra." Behalwe vir voertuie van besoekers en inwoners wat laat nag nog gery het het daar volgens Lategan geen ernstige voorvalle plaasgevind nie.
Die plaaswag het onlangs 'n hupstoot met 'n bedrag van R10 000 vanaf departement gemeenskapsveiligheid ontvang. Die geld is aangewend om roterende wit ligte vir hul voertuie te koop.
Vorige artikel: Buurtwag hou skelms stil
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'