STILBAAI NUUS - Die eerste vakansiegangers begin stadig maar seker inkom en is reeds besig om die heerlike somerweer te geniet.
Na die laaste paar maande se aanhoudende wind is dit vir die Stilbaaiers ook lekker om bietjie uit te kom en dit skep 'n heerlike vakansie atmosfeer in en om die dorp.
Stilbaai-hawe was Sondag behoorlik 'n miernes van bedrywighede en daar was nêrens 'n oop parkeerplek nie.
Heelwat vissersbote is uit, 'n klompie deelnemers aan die Trans Agulhas-rubberbootwedvaart later in die maand het oefenlopies kom doen en talle mense het die koswaentjies op die hawe besoek.
Kinders het op die hawemuur in die water wat oor die muur spat baljaar en ander het geduldig met visstokke vir daai grote gewag.
Die groot inval word hierdie week verwag en hopelik sal Stilbaai hulle met lekker sonskyndae kan verwelkom.
Vakansiegangers is baie welkom in Stilbaai, want hulle bring nie net die lekker vakansiegees hierheen nie, maar ook 'n welkome hupstoot vir die ekonomie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’