STILBAAI NUUS - Stilbaai Bewaringstrust, onder leiding van dr. Deon Begemann het Saterdag 12 Augustus die stryd begin teen indringerplante wat teen die skuins Goukourivieroewer tussen Lapskuit en die see groei.
Acacia Cyclops, rooipitjie in die volksmond, was hulle hoofteiken en die jong boompies is met behulp van 'n spesiale apparaat sommer met wortel en al uitgehaal.
Ouer bome is eers weggesnoei en dan het Begemann met sy petrolsaag ingeklim om die dik stamme kort bo die grond af te saag. Ronelle Begemann het gereed gestaan met die groei inhibeerder om die stompe te verf.
Dit verhoed dat die boom weer uitskiet.
Gustav Radloff, Johan van Staden en Quintus Schumann het gewapen met sae en snoeiskêre korte mette gemaak van jong plante en alhoewel die vyf stuks nie alles kon uitroei in die tyd wat hulle daar was nie, het hulle vir seker 'n verskil gemaak.
Hulle kom gereeld bymekaar en takel vooraf bepaalde gebiede in Stilbaai en hulle gaan vir seker weer terugkom om hierdie belangrike lewenstaak verder te vat.
Indien jy belangstel om te help kan jy vir Deon by 082 440 7910 skakel. Twee ure op 'n Saterdag is min genoeg, maar dit maak 'n verskil.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’