RIVERSDAL NUUS - 'n Massa-sterilisasieveldtog van troeteldiere in die dorp vind op 24 en 25 Oktober by Riverville-stadion plaas.
"Daar sal op een punt in die dorp se behoeftige woongebied begin word en sistematies deur die ongesteriliseerde diere gewerk word," sê Sandra Lotz van die Community Animal Resue Society (CARS).
Daar word beoog om sowat 100 diere te steriliseer, hoewel slegs befondsing vir ongeveer 60 honde beskikbaar is.
Die veldtog word moontlik gemaak met die ondersteuning van Willie Richards wat geld vir African Tails insamel.
"Volgens Alma Schaap van African Tails kon Willie nie wag om die behoefte in Riversdal met haar te bespreek nie," sê Lotz. Dit het daartoe gelei dat Schaap en Tanya van Tonder van FOUR PAWS Animal Welfare Foundation, Richards en hul veldwerker CARS op 10 Oktober besoek het om die besonderhede van die massasterilisasie te beplan.
Dr. Annelize Roos van Envirovet CVC en haar span sal die groot sterilisasietaak onderneem.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'