RIVERSDAL NUUS - Die verhoor van vyf mans wat aangekla word van die moord op Heila Kilian op 16 April 2018, duur voort in die rondgaande hooggeregshof op Mosselbaai.
Kilian (63) het dié aand saam met haar suster, Brenda Thomas, haar swaer David en Shaun Vorster, wat ook op die plaas Gazania gewoon het, buite gebraai.
Sakhumzi Benya, Nkoshihethu Nocuza, Msomi Nikani, Monwabisi Maki en Xolusani Myoyi, almal van die Oos-Kaap word van moord, roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie aangekla.
Hulle pleit onskuldig.
Adv. Christénus van der Vijver wat vir die staat aankla, het Vorster as hoofgetuie eerste geroep.
Volgens Louise Karsten van ons susterskoerant, Mossel Bay Advertiser wat die hofsaak namens Group Editors bywoon, het hy getuig dit was tussen 21:00 en 22:00 toe die vyf gewapende mans met bedekte gesigte uit die nag verskyn.
Hy is oorrompel en met 'n vuurwapen teen die kop op die grond gedwing. Omdat sy gesig in die sand gedruk was, kon hy nie sien wat aangaan nie, maar hy het 'n skoot hoor afgaan, gevolg deur 'n geluid soos dié van iemand wat 'n diep asemteug uitblaas. Hy het ook gehoor hoe David geslaan word en skree van pyn.
Hy en David is herhaaldelik aangerand terwyl die mans geld en waardevolle goed soos onder meer 'n kamera geëis het. Hulle het in 'n taal wat hy nie kon verstaan nie met mekaar gepraat, maar hom en David in Engels aangespreek.
Die marteling het sowat twee ure geduur voor hulle in David se bakkie met 'n kluis, vuurwapens en 'n jagmesversameling vort is.
Die uitkenningsparade waartydens een van die beskuldigdes geïdentifiseer is, maar wat bevraagteken is, is tydens 'n binneverhoor as aanvaarbaar verklaar.
Regter Lister G Nuku het vergunning verleen dat die media foto's van die beskuldigdes in die hof mag neem. Hul regsverteenwoordigers het aanvanklik geweier omdat dit glo hul kliënte se regte sal benadeel.
Die saak het Maandag 17 Februarie begin en duur tot 20 Maart voort.
Die vyf mans wat aangekla word van die moord op Heila Kilian op 'n plaas 'n paar kilometer buite Stilbaai in April 2018, se verhoor is nou in die rondgaande hooggeregshof op Mosselbaai aan die gang.
Brenda Thomas en haar suster, Heila Kilian.
Verwante artikels:
- Farm murder: Identity parade deemed admissible
- Judge to decide about photos in court
- Plaasmoord: Identiteitsparade vandag onder vergrootglas
- Murder at farm braai: 5 in court
- Farm murder: 5 to appear in high court
- Plaasaanval: Blye weersiens word tragedie
- Stilbaai-Plaasmoord: 4 verdagtes vas
- Opvolg: Vrou sterf in plaasaanval
- Plaasaanval: Gerugte van arrestasies onwaar
- Opvolg: Vrou sterf tydens plaasaanval
- Plaasaanval buite Stilbaai: 1 dood
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'