SLANGRIVIER NUUS - In net drie dae is 160 diere in Slangrivier gesteriliseer - 'n ongelooflike prestasie wat maande se beplanning, harde werk en gemeenskapsamewerking geverg het.
Die inisiatief is deur Community Animal Rescue Society (CARS) onder leiding van Sandra Lotz en Elschen Wentzel aangepak.
Die twee het vir weke lank in erge hitte deur die strate van Slangrivier gestap, van huis tot huis gegaan om inwoners op te voed oor die belangrikheid van diereversorging en sterilisasie.
"Ons het op skokkende gevalle van verwaarlosing afgekom - honde wat agter-gelaat is nadat eienaars verhuis het. Dit breek jou hart," vertel Lotz.
Met die ondersteuning van onderburgemeester Gerald Boesak en sy span, is die Slangrivier-gemeenskapsaal vir drie dae omskep in 'n mobiele kliniek waar veeartse van Vetsol onverpoos gewerk het.
Aanvanklik is beplan om 140 diere te help, maar die span het met 160 sterilisasies geëindig: 97 tewe, 44 reuns, 19 wyfiekatte en ses mannetjie.
Die hele projek, ter waarde van ongeveer R98 500, is deur privaat skenkers moontlik gemaak.
Groot bydraes het gekom van From Tassie with Love, LetsspaySA #, Bunker Farm, Gwinnith Roberts-Baxter en Melanie Cilliers.
Plaaslike besighede soos Waves in Witsand, Die Skeerhok Padstal en Eureka Meulens het verblyf, etes en lekkernye aan die span geskenk.
Lotz het die groep vrywil-ligers geloof wat sonder ophou gewerk het - Shaun-Dee Hopp, Geraldo Boesak, Tronel Pieters, Leonard Fakela, Robyn Learmonth, Thinus Lotz en Elschen Wentzel - wat die diere vervoer, versorg en gemonitor het.
"Ons was elke aand moeg, maar diep tevrede.
Die gemeenskap het met trots hul diere laat steriliseer - dit wys hoe ons saam 'n verskil kan maak," sê Lotz.
Ongelukkig moes drie siek honde uitgesit word weens 'n ernstige seksueel oordraagbare siekte wat tans onder troeteldiere voorkom.
Lotz waarsku dat voortgesette sterilisasieprogramme noodsaaklik is om hierdie lyding te stop.
"Sterilisasie red lewens - dit keer nie net ongewenste dierepopulasie nie, maar voorkom ook siektes en verwaarlosing," het sy gesê.
Skakel Sandra Lotz by 082 962 1831 vir meer inligting of donasies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
 
                 
                     
                     
                    
                    
                    
                    
                    
                 
                             
                         
                         
                 
                 
                 
                 
             
                 
                                     
                                     
                                     
                                     
                                 
                                         
                                         
                                         
                                         
                                     
                                         
                                     
                                     
                 
                         
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                