Dié beminde skoolhoof was vir nagenoeg 42 jaar by die skool betrokke. Benewens sy vrou Julie, wat self ook vir baie jare 'n onderwyser by die skool was, het hul twee dogters, Marese en Jul-Mir, hul seun Gerhard en sy vrou Rozetta, asook sy drie susters en twee van sy swaers die verrigtinge by die skool bygewoon.
Die beheerliggaam, onder leiding van hul voorsitter, past. JB Hoogbaard, het die inisiatief geneem om Geldenhuys op dié besondere wyse te eer. Personeellede, leerders en ouers het die geskiedkundige geleentheid meegemaak. Hoogbaard het na sy openingsgebed Geldenhuys se naam met Prediker 7 vers 1 vereenselwig, wat sê dat 'n goeie naam beter as reukolie is. Mike Pepper het die verwelkoming gedoen en Leonard Adams het as seremoniemeester opgetree. Spreker na spreker het herhaaldelik beklemtoon van die merkwaardige impak wat Geldenhuys op vele leerders, asook ander mense se lewens veral in Slangrivier gemaak het.
Ina Hoogbaard, sekretaresse en self 'n oud-leerder van Geldenhuys het gesê dat die pak slae wat hy haar eenkeer gegee het, van haar 'n wenner gemaak het. Mnr. Peter Adams, huidige prinsipaal, het gesê dat Geldenhuys 'n spesiale waarde toegevoeg en 'n spoor agtergelaat het, wat daagliks nog duidelik sigbaar in die leerders, personeel en ouers van die skool sal voortleef.
Mnr. Pat Esau, 'n swaer van Geldenhuys het namens die familie die skoolgemeenskap bedank vir die besondere gebaar. Die lint is deur Julie Geldenhuys geknip terwyl die kinders bygestaan het terwyl die gedenkplaat onthul is.
Gerhard het die boodskap op die plaat voorgelees terwyl sy ma en susters baie emosioneel geluister het. Julie het aan Suid-Kaap FORUM gesê dat sy en haar gesin nie die gebaar van die skool verwag het nie, maar dat hulle dit opreg waardeer omdat hy hom daarop toegespits het om net sy beste vir die skool en die gemeenskap te gee.

Julie Geldenhuys knip die lint terwyl haar kinders, Gerhard, Jul-Mir en Marese haar ondersteun. Past. JB Hoogbaard staan by. Inlas: Gerhard Geldenhuys lees die boodskap op die gedenkplaat voor terwyl sy ma en susters bystaan.