HESSEQUA NUUS - Die Wes-Kaapse provinsie wag vir kommentaar op 'n konsepontwerp wat op 9 Januarie vanjaar in die Provinsiale Staatskoerant gepubliseer is met betrekking tot 'n 3% verhoging in motorvoertuiglisensiegelde.
Volgens 'n verklaring van die departement van vervoer en openbare dienste maak die provinsie staat op hierdie lisensiegeld vir die bou, opgradering en onderhoud van die provinsie se paaie, om die munisipaliteite te help om meer strategiese paaie te befonds en te onderhou, en om die onderhoudagterstand te verminder.
Gedurende 2017/2018 is 94,8% van die kilometers wat in die provinsie afgelê is, op baie goeie of redelik goeie paaie afgelê – altesaam 7 019 km van die provinsie se paaie is in só 'n toestand.
Gedurende die tydperk is 63 080 m² vk m geteerde paaie opgradeer, 915 772 m² teerpad is rehabiliteer, 45 997 km paaie is geskraap en 22 km grondpad is opgradeer na teerpaaie. Verder is ses brûe en 76 duikweë gebou of opgradeer. Volgens die mediaverklaring is die paaie 'n bate van sowat R68 miljard wat deur sowat 2 miljoen voertuigeienaars van die Wes-Kaap en elders gebruik word. Enigiemand wat wil kommentaar lewer moet voor of op Vrydag 8 Februarie 'n e-pos stuur na shaldon.leroux@westerncape.gov.za; of 'n faks stuur na 021 483 2357.
Lees die konsepontwerp, Provincial Gazette Extraordinary 8027, by: www.westerncape.gov.za
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'