Op Saterdag, 5 Mei 2012, het die gemeenskap hul laaste eer betoon met die begrafnisse van die twee geliefde vroue, Psyche Groenewald en Juanita Hendricks. Elkeen van hul wat op hul eie manier mense vanuit die gemeenskap geraak het.
Psyche Iris Groenewald - 7 November 1939 - 27 April 2012:
Psyche is oorlede op Vrydag, 27 April, na 'n siekbed wat sy waardig gedra het. Die huisdiens is gehou deur pastoor Ferdie Groenewald, en die diens is in die Evangelies Lutherse Kerk waargeneem deur pastoor Jacques Grispe en Emeritus Biskop Andrew Fortuin.
Onder die begrafnisgangers was oud-kollegas van wyle Herbert - eggenote van
Psyche, soos mnr. Harold Muller, oud-inspekteur van Onderwys, Minister Theuns Botha, die Burgemeester van Hessequa, rdl. Emor Nel, mnr. Hannes Bouwer, 'n oud-raadslid, asook verskeie ander raadslede. 'n Huldeblyk is gelewer deur Herbie Groenewald, asook Pedro le Roux van Ladismith.
Die bobaasbakster word oorleef deur vyf kinders en agt kleinkinders.
Juanita Hendricks 26 Januarie 1970 - 28 April 2012:
Die geliefde juffrou Juanita van Panorama Primêr, wat haar passie vir kinders en die onderwys behoorlik uitgeleef het, is Saterdag, 28 April oorlede nadat kanker by haar gediagnoseer is.
Die begrafnis van die beminde juffrou het uit 'n oorvol St. Andrews Anglikaanse Kerk plaasgevind. Buite die kerk het die leerders 'n erewag voor die hoof-ingang gevorm en het van die roubeklaers buite gestaan. Die diens is waargeneem deur Eerwaarde Isaac Josephs, en die huldeblyk is deur die skoolhoof, mnr. Johan Fielies gelewer. Die skoolkoor het die hartseer probeer versag deur 'n lied te sing, en die Royal Crusaders Kersfeeskoor het ook hul eer betoon.
Van die roubeklaers het genoem dat die juffrou met haar mooi persoonlikheid, sprankelende geaardheid, borrellende energie en liefde, definitief gemis sal word, maar dat hul haar die rus gun na haar pyn. Juanita word oorleef deur haar eggenoot, Michael, ouers John en Babie Jacobs, een suster en twee broers. Tydens die teraardebestelling het Michael duiwe losgelaat terwyl die kis neergesak is, as 'n teken van die Heilige Gees wat neergedaal het, maar ook as 'n teken dat sy geliefde vrou, vry is van haar pyn.
Mag die woorde van Marcus Aurelius as troos vir die bedroefde naasbestaandes dien: "Ek versoek my met alles wat volgens U bestemming is. Niks kom vir my te vroeg of te laat as dit op U bestemde tyd is nie. Alles wat U getye my bring, aanvaar ek as die vrug op my lewe. Van U is alle dinge. In U is alle dinge. Na U keer alle dinge terug."

Hartseer staan die leerders van Panorama Primêr ‘n erewag buite die kerk tydens die begrafnisdiens van hul geliefde juffrou Juanita Hendricks.
(Keith P. Eksteen)