Update
STILBAAI NUUS - Die 'Waterslim'-gemeenskapsinisiatief (Waterwise) is in dié kusdorp, asook Jongensfontein van stapel gestuur met die eerste van 14 borde wat die gevaar van sleurstrome aandui.
Die borde is Donderdag 5 Julie by die Preekstoelstrand aangebring. Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, het in samewerking met Hessequa-munisipaliteit ook tot sewe pienk torpedo-reddingsboeie bygedra wat by die strande aangebring word en het die eerste boeie, tesame met die borde by Preekstoel oorhandig.
Die NSRI het gedurende 2017 die nooddobberveldtog (emergency floatation campaign) van stapel gestuur met dié pienk torpedo-boeie wat na 'n swemmer wat in nood verkeer, gegooi kan word.
Dié Waterslimprojek is deur Anel Bezuidenhout en Stilbaai se Kiewiet Eiendomsagentskap, van stapel gestuur na aanleiding van Nigel Francis se verdrinking in Desember 2017 en Stefan Marais s'n in Januarie vanjaar. Die borde is ook deur dié eiendomsagentskap geborg.
Daar word gepoog om deur 'n pro-aktiewe benadering hulde te bring aan alle vorige verdrinkingslagoffers, maar ook alle swemmers van die gevare van die rivier en swemplekke bewus te maak.
Al die waarskuwingsborde beskik oor 'n liggingsnommer in die hoek regs onder wat tydens 'n noodoproep aan die beheerkamer 'n aanduiding sal gee waar bystand verleen moet word.
Die inligtings- en waarskuwingsborde gaan ook by Lappiesbaai se hoofstrand, Steentjie by die Wesstrand, Skulpiesbaai, by die buiteluggimnasium naby die riviermonding, Lapskuit, weerskante van die riviermonding, asook by Jongensfontein aangebring word. Die pienk torpedo-boeie word by Preekstoel, Lappiesbaai, by die riviermond en by Steentjie (naby die hawe) in Stilbaai geplaas, asook in Jongensfontein.
Die boeie, wat in samewerking met die NSRI aangebring word, sal met 'n opsporingsapparaat toegerus word sodat die beheerkamer kan sien wanneer dit verwyder en waar hulp benodig word.
Skole en kleuterskole in Hessequa gaan deur die NSRI se personeel besoek word om selfs groter bewustheid vir die gevare van sleurstrome te kweek.
Die behoefte bestaan om méér as die huidige sewe boeie aan te bring, terwyl ook gekyk word om twee wit borde wat aandui wanneer kajakke uit is en terug verwag word. Bezuidenhout, wat die projekbestuurder is, kan hiervoor gekontak word by 072 505 6584 of anel.kiewietproperties@gmail.com.
Lees 'n vorige artikel: 'Waterslim'-projek in Stilbaai geloods
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'