Vir sommige van die 250 gesinne wat daar bly, is dit absolute chaos soos hulle deur die krieke oorval word.
Volgens een van die geaffekteerde inwoners, Alice Fielies, weet sy nie meer wat om te doen om die probleem hok te slaan nie.
Fielies sê dat sy dit oorweeg het om weer na haar vorige woning terug te trek as gevolg van die krieke.
"Dis net krieke oral waar jy kyk". Sy blameer die spreiligte wat as straatligte gebruik word vir dié toedrag van sake. Fielies is van mening dat dié soort beligting veel hoër opgerig moet wees, omdat die skerp ligte baie onwenslike goggas lok.
Buiten die magdom krieke wat hul huise 'infiltreer' is daar ook nog die swart koffiepit gogga waarmee die inwoners opgeskeep sit. Fielies vrees dat dié onwelkome ongediertes haar groot skade gaan besorg aan haar meubels, veral die sitkamerstel. Sy het 'n bankoortreksel gewys wat onder die goggas deurgeloop het en sê dat daar nie 'n vertrek in die huis is wat nie deur die krieke 'beset' is nie.
Nog 'n inwoner, Maria Hartnick, wat op haar 80ste verjaarsdag 'n huis bekom het, is net so raadop oor die krieke met hul vreeslike geraas. Volgens haar het die werkers van Eskom aan hulle verduidelik dat die spreiligte net tydelik gebruik sou word omdat daar nie voorraad van die gewone straatligte was nie. Beide die inwoners voel dat die probleem erger vir diegene is wat naby die ligpale bly, omdat die krieke meer om die pale gekonsentreer is. Hulle wil graag hê dat die kwessie so spoedig moontlik aangespreek word om die skerp spreiligte te vervang.
Hessequa Munisipaliteit nader CapeNature
Die munisipaliteit het CapeNature geraadpleeg in verband met die toename van krieke in die gebied, wat soos volg reageer het: Die toename in krieke is normaal as mens die tyd van die jaar en warm temperatuur in ag neem. Kos vir krieke is volop op die oomblik en met die uitermatige reënval wat Hessequa gedurende die afgelope maand ervaar het, is daar gesonde, nuwe groei van grasse en boere se somergewasse.
Die sameloop van omstandighede van hoë somerreënval, warm temperature en voldoende voedsel skep die ideale kondisies vir krieke om vinnig en suksesvol voort te plant. Die swart- of veldkriek is oor die hele Afrika kontinent versprei, volop in Europese lande rondom die Middelandse See en Asië. Veldkrieke verkies om naby dorpe en stede te vestig as gevolg van die ononderbroke beskikbaarheid van voedsel en is baie aanpasbaar in enige omstandighede. Raad vir krieke: Vervang buiteligte met geel 'sodium vapour' ligte. Krieke vind hierdie soort ligte baie minder aanloklik. Verwyder alle vrot huishoudelike afval en tuinvullis in en rondom huise. Moenie huishoudelike afval en tuinvullis naby huise stoor nie. Hou deure en venster toe te alle tye.
Enige plantmateriaal of hout naby huise is 'n goeie habitat vir krieke. Geraaspaddas, klein witreiers en hadedas is natuurlike beheermiddels vir krieke en word die gemeenskap gemaan om hulle nie te versteur nie.

Alice Fielies wys na die spreilig wat hulle as die wortel van die kwaad aanskou met die kriekeplaag wat hul getref het.