RIVERSDAL NUUS - Panorama Primêr se juniorkoor het selfs hul eie verwagtinge in Port Elizabeth oortref.
Die koor het Vrydag 13 September aan die eindronde van die kykNET koorkompetisie Sing in harmonie deelgeneem.
Uit die agt deelnemende skole het hulle 'n algehele derde plek behaal, terwyl hulle in die afdeling vir gewyde liedere as wenners aangewys is.
Hul algemene lied was How much is that doggie in the window? terwyl hulle met Jesus roep my vir 'n sonstraal in die gewyde afdeling meegeding het.
Volgens hul afrigter, mev. Dot Adams het die kommentaar van die beoordelaars die koor se besondere dissipline uitgesonder. Hulle het elke keer gelyk en op die regte telling ingeval en hul oë net op haar gehou. In die een beoordelaar se woorde het die juffrou 'getoor' met die groepie.
Adams het besondere waardering vir die begeleier Sulayman Human van Oudtshoorn se fyn aanvoeling vir die kinders.
Sy loof die harde werk en toewyding waarmee voorberei is en is bly dat die leerders die geleentheid om buite Hessequa te reis gekry het. Volgens hul ouers praat hulle sonder ophou oor alles wat hulle gesien en gedoen het, van die vreemdheid van stadsgewoel tot Stormsrivierbrug en besoeke aan die Bay World oseanarium en museum.
Ruskans is min want hulle oefen reeds vir 'n koorfees wat vir volgende kwartaal in die Riversdal-burgersentrum beplan word. Die kore van gr. R, die junior- en seniorkore, asook 'n gaskunstenaar sal optree.
Lees vorige berigte:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'