Update
HEIDELBERG NUUS - Tashwill Davids (8) 'n leerder van De Waalville Primêr en Sonia Plaatjies (38) wat noodlottig beseer is nadat die donkerblou VW Golf waarin hul gery het, gerol het, word Saterdag 20 Januarie te ruste gelê.
Die dorp is erg geskok met die tyding van Plaatjies en haar nefie, Davids, se dood Donderdagaand 11 Januarie.
Nog vier ander persone was in die voertuig.
Die voorval het ongeveer 21:40 op die R322 Witsandpad net buite Heidelberg, sowat 15 km vanaf die N2 gebeur.
Beide oorledenes het agter gesit en is uit die motor geslinger. Hulle is op die toneel dood verklaar.
Die groepie was vanaf Witsand, waar hulle die middag op die strand deurgebring het, op pad terug na Heidelberg.
Die ander insittendes, waaronder drie volwassenes, Freddy Sauls wat bestuur het, Michael Vaaltyn, Maria Cook en Evanique Plaatjies (10), is met veelvuldige beserings na Riversdal-hospitaal geneem.
Cook en Plaatjies is Vrydagmiddag na behandeling ontslaan, terwyl Sauls en Vaaltyn na George-hospitaal oorgeplaas is.
Tashwill Davids. Foto verskaf
Sauls is Saterdagmiddag ontslaan, terwyl Vaaltyn met spertyd nog in die waakeenheid was. Sauls is die pa van Davids en neef van Plaatjies.
Volgens a.o. Alroy Windvogel, plaaslike polisiewoordvoerder word 'n klag van strafbare manslag ondersoek.
Tashwill se ma, Shantal Davids, vertel hartverskeurend dat haar enigste kind verskriklik uitgesien het om Woensdag met die aanvang van die nuwe skooljaar na gr. 3 te gaan.
"Ek het vir hom 'n nuwe paar skoene, boeksak, 'n kosblik en skryfbehoeftes gekoop. Hy was so ywerig om by die skool uit te kom."
Volgens beide sy oumas het hy die afgelope twee weke baie van sy pa gepraat en wou hy net by sy pa wees.
Joan Davids vertel snikkend dat hy haar twee weke gelede gevra het dat sy hom moet belowe om hom nooit van sy pa af weg te hou nie.
Tashwill Davids se bedroefde ma en ouma, Shantal en Joan Davids met sy nuwe skoene en boeksak op hul skoot.
Sy ander ouma, Catherine Hartnick vertel ook dat hy omtrent dieselfde tyd ook aan haar gesê het dat as sy pa (Sauls) voor hom sterf, hy hom sou ophang.
Plaatjies se ma, Rosie Tieties, vertel hartseer dat sy haar seun, Jeremy Plaatjies, net meer as 'n jaar gelde aan die dood afgestaan het.
"Dit is hard vir my as ma, maar ek aanvaar dit en bevraagteken nie God se plan nie."
Davids se begrafnisdiens vind Saterdagoggend om 08:00 vanaf die huis in Theo Adamsrylaan, Joe Slovo Park en daarna om 09:00 vanuit St. Barnabas Anglikaanse Kerk plaas.
Plaatjies se begrafnisdiens vind om 10:00 by die huis in Hartnicksingel, Joe Slovo Park en daarna vanuit die Diepkloof-jeugsentrum onder leiding van die Ekklesia Living Faith Ministries plaas.
Sonia Paatjies se hartseer ma, Rosie Tieties en haar kleindogters, Evanique wat ontslaan is en Suemaya Plaatjies, asook haar dogter, Ruzanne Plaatjies.
Lees 'n verwante artikel: Jong seun en vrou sterf in ongeluk
ARTIKEL & FOTO: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM-KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'