HEIDELBERG NUUS - Met die hewige stormwinde en reën, wat groot gedeeltes van die Wes-Kaap die afgelope tyd kniehalter, en die nuus dat twee werkers en inwoners van hier, wonderbaarlik 'n noue ontkoming in die hart van Meiringspoort gehad het, kan daar net dankie gesê word aan ons Hemelse Vader.
Die twee manne, Isaac 'Izil' Roberts (56) en Breyton Hartnick (24), beide werkers by 'n plaaslike besigheid, genaamd BezUys, was verlede week vir twee dae (Woensdag 6 Mei tot Vrydag 8 Mei) tydens die hewige wind en reënstorms in Meiringspoort, net buite De Rust, vasgekeer.
Hulle is ongeveer 13:00 Vry-dagmiddag deur 'n reddings-helikopter na veiligheid gebring.
Volgens inligting verskaf, is die twee Woensdag 6 Mei in die vroeë oggendure, terwyl hulle na Willowmore met 'n klein vragmotor en sleepwa gereis het, in die poort vasgekeer nadat erge weer en gevaarlike oorstromings die pad onbegaanbaar gemaak het.
Meiringspoort was nog amptelik oop toe hulle daar vasgekeer was.
Hulle het die vragmotor verlaat en opdraand na 'n klein struktuur beweeg wat gelyk het soos 'n plek waar gaskanne gestoor word.
Die twee gestrande mans, koud, uitgeput en vir byna 60 uur van hulp afgesny, is uiteindelik suksesvol deur 'n gekoördineerde operasie wat noodreddingspanne en 'n helikopter van die Wes-Kaapse regeringsdepartement van gesondheid se nooddienste betrek het, gered.
Die emosionele redding het geweldige verligting gebring vir beide Roberts en Hartnick, asook die reddingspersoneel wat onvermoeid regoor die rampgeteisterde gebied gewerk het om gemeenskappe wat deur die erge weerstoestande geraak is, te help.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’