STILBAAI NUUS - Meeste plaaslike inwoners ken die geskiedenis van die tragiese verdrinking van 17 vissers op 12 April 1966, wat die vonk was wat aanleiding gegee het tot stigting van die NSRI twee jaar later.
Die opgawe van die name van die vissermanne wat omgekom het met die sink van die Sea Bird, Charmaine en Tuljar bly onvolledig. "Tot op hede kon slegs die name van nege vissermanne bevestig word," sê dr. Jopie Coetzee, een van vier skrywers wat 'n 50-jaar gedenkboek vir die Mosselbaaise NSRI saamstel. Hulle is AJ Grobler, Adam Jantjies, Karel Lukas, Otto Juries, Kerneels Titus, James April, John de Kock, Hans Robertson en Matteus Robertson.
"In die eerste hoofstuk wil ek graag skryf oor die geskiedenis van die NSRI. Die vraag wat by my spook is dit: Hoe weet mens dat daar 17 vissermanne verdrink het as daar net nege name bekend is?
"Die nagedagtenis van die ander agt vissermanne wie se liggame nooit gevind is nie, kan tog nie net in die geskiedenis vergete bly nie. Hulle geliefdes moet vandag êrens wees. Maar waar? Ek is seker dat hulle ook hul gestorwe geliefdes se name opgeteken in die geskiedenis as 'n huldeblyk sal wil plaas."
Coetzee beroep hom op die gemeenskap, of enigiemand wat kan help om die ontbrekende name op te spoor.
"Enigeen wie my behulpsaam kan wees met hierdie navorsing sal sekerlik in ons 'bedankingslys' genoem word." Kontak hom by 082 336 8118.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'