RIVERSDAL NUUS - 'n Toename in diefstalsake in Riversdal wek kommer by die plaaslike polisie, wat inwoners nou waarsku om meer waaksaam te wees en nie waardevolle items oop en bloot te laat lê nie.
Volgens sers. Christiaan Jansen, mediaskakelbeampte van Riversdal-polisie, word al meer diefstalle aangemeld waar boosdoeners maklik toegang kry tot waardevolle items wat in voertuie of by huise sigbaar gelaat word.
Jansen sê misdadigers beweeg heeldag deur woonbuurte en teiken veral voertuie en huise waar selfone, handsakke, gereedskap en ander waardevolle besittings sigbaar is.
Hy doen 'n dringende beroep op inwoners om motors altyd te sluit, waardevolle items uit voertuie te verwyder en seker te maak dat huise se hekke en deure behoorlik gesluit is.
"Indien inwoners meer verantwoordelik optree en basiese veiligheidsmaatreëls toepas, kan die aantal diefstalsake drasties verminder," het Jansen gesê.
Die polisie vra ook dat inwoners onmiddellik verdagte persone of onbekendes wat in woonbuurte rondswerf, by die polisie aanmeld.
Volgens Jansen speel gemeenskapsamewerking en waaksaamheid 'n belangrike rol in die bekamping van misdaad op die dorp.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’