Update
HESSEQUA NUUS - Aandagafleibaarheidsindroom (AAS) of ook genoem Aandagtekort-hiperaktiwiteitsversteuring (ATHV) is 'n uitdaging vir ouers, onderwysers en vriende.
Vir die kinders wat met hierdie kondisie moet saamleef, kan dit 'n nagmerrie wees. Aandagtekortsindroom is nie 'n mediese siekte nie.
Dit is veel eerder 'n situasie waarby die kind die onvermoë toon om voldoende aandag te gee of kom ook impulsief voor met hiperaktiwiteit.
Aandagafleibaarheid is 'n situasie wat groot kommer en druk skep in die familiestruktuur.
Onderprestasie op skool en ook indringende sosiale gedragsprobleme kan nie net misinterpreteer word nie, maar skep erge konflik vir die kind sowel as die ouer. (Dr John Wickens, bron: www.kleuters.co.za)
Meeste kinders met AAS (ADD/ADHD) het ook baie van die volgende in gemeen:
- Daar is twee hoofgroepe kinders, die dromers wat meeste van die dag in hul eie wêreld is.
- Die hiperaktiewe kind wat heeldag vroetel, praat, op-en-af hop, en niks kan uitlos nie en gee niemand anders 'n beurt nie.
- Die kind is vergeetagtig en kom in die moeilikheid daaroor.
- Ouers/onderwysers moet gereeld dieselfde taak herhaal.
- Emosionele ontwikkeling/volwassenheid problematies.
- Sukkel om situasies op 'n emosionele vlak te hanteer, voel baie gou seergemaak en wil "terugkry".
(Vanuit www.kleuters.co.za)
Dinelle Faul, 'n Kliniese sielkundige in Vereeniging, verduidelik dat "Aandagafleibaarheid" die wyse waarop 'n kind sy korttermyngeheue gebruik, belemmer.
Hierdie kind mag vir jou 'n koppie tee bring nadat jy spesifiek vir koffie gevra het.
'n Hiperaktiewe kind blyk asof hy te veel energie het, maar in teendeel, prof. Lardus Erasmus (biochemie-afdeling by Potchefstroom Universiteit) meen dat 'n tekort aan metabolies sellulêre energie in die brein, baie bydra tot die simptome van die ooraktiewe kind.
Hoe dit ook al sy, dit is meer belangrik om die vreemde wêreld van AAS-kinders te verstaan sodat hulle bygestaan kan word en leer om die beste daarvan te maak.
Kinders met AAS kan 'n absolute plesier wees en het baie talente.
Geen kind kies om te sukkel nie, en ouers wat verstaan waardeur hul gaan, is van kardinale belang. (Deur Des Coetzee)
Ouers, onderwysers en versorgers word hartlik uitgenooi om 'n gratis weeklikse ondersteunings groep by te woon.
Leer meer oor AAS en praktiese, eenvoudige maniere om hierdie kinders te help om die meeste te maak van hierdie toestand by die huis en op skool.
Volgende byeenkoms: Dinsdag 30 Januarie om 10:00 en Donderdag 1 Februarie om 17:30 vir die werkende ouers.
Dit sal by Die Dam Restaurant te Riversdal plaasvind.
Skakel Des 071 385 6348 of Reinette 028 713 3061.