ALBERTINIA NUUS - Die plaaslike museum was een van die ondernemings wat Vrydagaand 12 April geld van die Garden Route-distriksmunisipaliteit se SODA (State of the District Address) in die George-burgersentrum ontvang het.
Chris Thomas, ondervoorsitter van Albertinia-museum, het dit in ontvangs geneem. Die museum vier hul 15de bestaansjaar op 27 April in die vorm van 'n kultuurdag.
Kosstalletjies sal verskillende kultuurgroepe se kos aanbied en daar gaan demonstrasies wees van hoe 'n aalwyn getap word, boerseep gekook word en gansvere gepluk word. Veteraanmotors, donkiekarritte, sweepslaan, sweepvleg, lyndansers, volkspelers en rieldansers is ook op die program. Vir die kinders sal daar 'n speelarea wees met springkastele, battery-aangedrewe karretjies, glip en gly, asook gesigverf.
Die museum beeld die geskiedenis van die gemeenskap uit en baie van die voorraad is deur plaaslike families geskenk. Dit is van Maandae tot Vrydae oop vir besoekers. Vir meer inligting oor die museum of kultuurdag kan Tinka Small by 082 920 7469 of Karen Swarts by 060 660 8255 geskakel word.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'