HESSEQUA NUUS - Ná twee dae van gure weer, kragonderbrekings en uitdagende omstandighede, het munisipale werkers en nooddienste onverpoosd gewerk om inwoners veilig te hou en noodsaaklike dienste aan die gang te hou.
Volgens ’n boodskap vanaf Betsie van Noordwyk, vanuit die munisipale tegniese afdeling, is daar groot dankbaarheid dat die gebied slegs die “stertjie” van die storm ervaar het, terwyl ander dele van die Wes-Kaap veel erger getref is.
Munisipale spanne, reddingswerkers en brandweerpersoneel was deurentyd gereed om omgewaaide bome te verwyder, paaie oop te hou en inwoners by te staan waar hulp benodig is.
Sandsakke en seile is versprei, verkeer is beheer waar nodig, en inligting is deur verskeie platforms aan inwoners gekommunikeer - selfs deur luidsprekers in gebiede waar selfoonseine swak of afwesig was.
Ten spyte van die uitdagende omstandighede is vullisverwydering voortgesit, stormwaterslote skoongemaak en herstelwerk aan barspype en ander infrastruktuur uitgevoer.
Elektrisiteitspanne het intussen in moeilike weersomstandighede gewerk om kragtoevoer in verskeie gebiede te herstel.
Hoewel baie gebiede reeds weer krag het, is daar steeds sekere woongebiede en groot dele van plaasgebiede wat sonder elektrisiteit is.
Eskom-spanne sal dié gebiede besoek sodra dit moontlik is.
Inwoners word versoek om kragonderbrekings en ander probleme via WhatsApp by 084 014 1828 aan die noodbeheerkamer aan te meld deur hul naam, adres en besonderhede van die fout deur te stuur.
Die munisipaliteit het ook inwoners aangemoedig om boodskappe van waardering en ondersteuning vir die werkers te stuur sodat dit in interne nuusbriewe gedeel kan word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’