Update
HESSEQUA NUUS - 'n Vrou en twee mans is Vrydag,15 Oktober in 'n ongeluk beseer toe hul voertuie op die N2, ongeveer 6km vanaf Albertinia naby die Garden Route Game Lodge gebots het.
"'n Bakkie het 'n ander bakkie, wat regs wou draai en vir verkeer van voor af gewag het, probeer verbysteek en het dit skrams aan die linker agterkant getref. Die bakkie het gerol en toe met 'n ligte motorvoertuig, wat van die teenoorgestelde rigting aangery gekom het, gebots," het kapt Susan Botha, stasiebevelvoerder van Albertinia-polisie gesê.
Die bakkie wat regs gedraai het, het nie ernstige skade opgedoen nie en die bestuurder is nie beseer nie.
Die eerste bakkie het op sy dak in die veld langs die N2 tot stilstand gekom, en die motor 'n entjie verder.
Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24 wat ook op die toneel was, het die vrou wat in die motor was, ernstige beserings opgedoen. Sy was alleen in die voertuig.
"ER24 het om 13:33 by die toneel opgedaag en het twee mans in die omgeslaande bakkie gevind, terwyl 'n vrou in haar ligte motorvoertuig sit. Paramedici het gevind dat die vrou in 'n ernstige toestand is, terwyl die twee mans matige beserings opgedoen het."
Al drie is na die Life Bay View privaat hospitaal op Mosselbaai vervoer.
'n Saak van roekeloos en nalatige bestuur is geopen.
VERWANTE ARTIKEL: 3 Beseer in ongeluk op N2
In 'n ander voorval Saterdag, 16 Oktober op die stegpad buite Riversdal is die bestuurder van 'n groen Suzuki-voertuig lig beseer na hy blykbaar beheer verloor en die motor die pad verlaat en gerol het.
Die motor het op sy dak in die veld tot stilstand gekom. Die voorval het om ongeveer 12:15 gebeur.
"'n Saak van roekeloos en nalatige bestuur is geopen," het lt kol Delicia Isaacs, stasiebevelvoerder van Riversdal-polisie gesê.
Die bestuurder van die voertuig het lig daarvan afgekom.
VERWANTE ARTIKEL: Man lig beseer na motor pad verlaat
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'