RIVERSDAL NUUS - Suid-Kaap Forum het oor die afgelope paar weke verskeie klagtes oor motoriste wat nie aan verkeer-, maar veral parkeerregulasies in Riversdal voldoen nie, ontvang.
Voertuie parkeer blykbaar onwettig op spasies wat vir gestremde persone gereserveer is, maar ook vir langer tydperke as die toegelate 60 minute by sommige parkerings in sekere dele van die dorp.
Een van die klaers het 'n foto gestuur van 'n afleweringswa wat glo gereeld op die parkering vir gestremde persone voor Absa staan.
Nêrens op die voertuig is 'n skyfie wat bevestig dat die bestuurder of sy passasier(s) gestremd is nie.
"Maandae en Vrydae, wanneer die dorp besonder vol voertuie is weens ouers wat hulle kinders skole/koshuise toe bring of kom haal en boere wat plaaswerkers dorp toe bring, staan voertuie op kritieke plekke, soos voor 'n bank vir baie langer as 60 minute," vertel 'n ander klaer.
"Dis nie asof hulle besig is om goedere vir hul winkel of besigheid af te laai nie, wat mens dan sou kon verskoon."
Die koerant het die volgende vrae aan Hessequa-munisipaliteit gerig
- Stap wetstoepassers of verkeersbeamptes nog patrollies in die streek?
- Word parkeerreëls toegepas?
- Beskik die munisipaliteit oor statistieke, soos die hoeveelheid kaartjies wat al vir parkeeroortredings oor die afgelope drie maande uitgereik is?
Kommentaar
- Die munisipaliteit beskik oor 'n toegewyde verkeersbeampte en wetstoepassingskorps. Beamptes van beide dissiplines werk hand aan hand saam om verkeersverwante oortredings wat deur stilstaande voertuie veroorsaak word, aan te spreek.
- Die betrokke personeel word volgens skofroosters ontplooi en verrig diens regoor die munisipale gebied. Voertuigbestuurders word gemaan om hulle daarvan te weerhou om doelbewuste verkeersoortredings wat verband hou met parkering te begaan, aangesien daar teenoor diesulkes opgetree sal word.
- Geen kommentaar is hierop gelewer nie.
Lees vorige artikel:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'