STILBAAI NUUS - Dié kusdorp en omgewing se misdaadsyfers is baie laag.
So sê past. Jan Kleynhans, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).
"Die sukses kan ook aan die aktiewe buurtwagte en sub-forum toegeskryf word wat die polisie bystaan," sê hy.
In die dorp is Pieter Lategan die koördineerder, terwyl Alison Bryant die sub-forum (landelike gebiede) hanteer. "As voorsitter is ek nie alleen trots op ons polisie nie, maar ek merk ook altyd die lede se vriendelike en toegewyde werk op. Ons doen 'n beroep op alle inwoners om te alle tye versigtig te wees met mense wat in die strate beweeg en onbekend is met die omgewing. Rapporteer enige verdagte persone of optredes onmiddellik aan die polisie."
Inwoners wat nog nie by 'n buurtwag aangesluit het nie, kan die polisiestasie by 028 754 6100 skakel om te hoor wie in hul omgewing die koördineerder is. Rolspelers bestaan uit onder meer die polisie, wetstoepassing, munisipale raadslede, buurtwagte, sub-forum, skole, kerke, organisasies, verenigings en sportklubs uit die dorp en omgewing, wat deel van die GPF rolspelersvergadering vorm wat maandeliks gehou word.
"Baie dankie aan die inwoners van Stilbaai, Melkhoutfontein en Jongensfontein, sowel as die landelike gebied wat ons help om misdaad laag te hou. Ons wil hiermee die polisie, onder leiding van stasiebevelvoerder kapt. Johan van Tonder, bedank vir hulle toegewyde en aktiewe deelname aan die bekamping van misdaad," sluit Kleynhans af.
Persone wat enige insette wil lewer, kan Kleynhans by 083 627 0619 of die Rhoana Vrey (sekretaris) by 082 536 3975 skakel, of e-pos gpf.stilbaai@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'