Gallery Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Minister Tertuis Simmers van die menslike nedersettingsportefeulje in die Wes-Kaapse provinsiale kabinet het Vrydag, 17 September die sooispitgeleentheid in Melkhoutfontein waargeneem.
Hierdie behuisingsprojek, waaroor Suid-Kaap Forum volledig berig het op Vrydag, 6 Augustus is 'n lank gekoesterde droom wat uiteindelik bewaarheid word en gaan uiteindelik huisvesting aan 585 huiseienaars bied.
Colin Daries het die geleentheid geopen met Jeremia 29 waarin die Here vir die bannelinge sê: "Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan. Verder sê Hy, Hy beplan vir hulle voorspoed en nie teenspoed nie. Hy wil vir hulle 'n toekoms gee, 'n verwagting." Daries het afgesluit deur te sê dat God vir Melkhoutfontein 'n hoopvolle en voorspoedige toekoms sal hê.
Fotogalery: Sooie gespit in Melkhoutfontein
Hessequa se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles het gesê dat sommige mense al 30 jaar wag vir 'n eie huis en dat hierdie projek sal verseker dat hulle wag verby is. "Deure het vir hierdie projek begin oopgaan en het dit regtig begin momentum kry toe minister Simmers R9 000 000 beskikbaar gestel het om die opgradering van die rioolwerke moontlik te maak," het hy gesê. Hy het die minister en sy departement bedank vir die harde werk wat hulle agter die skerms uitvoer om van die projek 'n reusesukses te maak.
Die minister het in sy toespraak gesê dat 'n projek soos hierdie 'n lewende erfenis bou en dit wys aan die nuwe generasie wat gemeenskappe kan doen en bereik as jy saamstaan.
"Moenie dat die verlede jou terughou nie. Die gemeenskap is net so 'n belangrike vennoot in hierdie projek as die provinsiale- en plaaslike regerings en dit is baie belangrik dat julle dit aanneem en koester, want uiteindelik is dit net tot julle voordeel.
"'n Gemeenskap wat opbou in plaas van afbreek, is 'n gemeenskap met 'n toekoms. 'n Projek van hierdie omvang skep baie werksgeleenthede, want die ontwikkelaar maak baie van plaaslike mense gebruik. Die gemeenskap moet mekaar ondersteun en seker maak dat soveel moontlik werklose mense hierby baat vind," het Simmers benadruk.
Volgens hom sal die eerste sleutels van huise al in 2023 aan begunstigdes wat daarvoor kwalifiseer en op die databasis geregistreer is, oorhandig word indien alles volgens plan verloop. "Die sooispit is 'n nuwe begin en die gemeenskap moet die erfenis erken, maar moet ook 'n nuwe erfenis gee. Elkeen se rol is ontsettend belangrik."
Ben Smith, wykraadslid vir Melkhoutfontein het gesê dat hy en die burgemeester se droom is dat elke agter erfbewoner 'n eie huis sal hê en dat hierdie projek 'n bewys is dat drome waar kan word.
Johannes Hartnick het die minister bedank vir wat hy vir Hessequa en spesifiek Melkhoutfontein beteken. "Solank jy aan die regering se kwalifiseringsvereistes voldoen en op die munisipaliteit se databasis geregistreer is, sal jy voorrang kry bo ander inwoners van Hessequa. Met die groot behuisingsnood in die omgewing is dit egter belangrik dat jy so gou moontlik op die databasis geregistreer word," het hy aangeraai.
Minister Tertuis Simmers en die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles. Foto's: Johan Victor
Vorige artikel: Eerste sooi word gespit
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'