MELKHOUTFONTEIN NUUS - Die langverwagte Melkhoutfontein behuisingsprojek is sedert Maart 2020 sterk op dreef om 'n realiteit te word vir ongeveer 585 potensiële begunstigdes van Melkhoutfontein, Stilbaai en onmiddellike landelike gebied inwoners.
Die stof draai letterlik op die ontwikkelingsterrein soos wat die kontrakteur die eens beboste gebied omskep en gereed maak vir die aanlê van siviele dienste.
Die projek was deur die huidige munisipale raad geprioritiseer en op hul goedgekeurde behuisingspyplyn geplaas.
Tydens die beplanningsfase van die projek was uitgewys dat die bestaande rioolwerke op Melkhoutfontein opgradeer moet word, ten einde die nuwe projek se afvloei te akkommodeer. 'n Bedrag van R9 miljoen is deur die provinsiale departement van menslike nedersetting goedgekeur vir die opgradering van die rioolwerke.
Die projek sal oor drie finansiële jare befonds word. In die eerste jaar - R31,5 miljoen; tweede jaar - R43,5 miljoen en die derde jaar - R32,5 miljoen. Saam met die R9 miljoen vir die rioolwerke sal daar dus 'n finansiële investering van ongeveer R120 000 000 ten opsigte van die projek gemaak word.
Die eerste fase van die projek behels die installering van siviele dienste (paaie, water, riool, stormwater), waarna die konstruksie van huise sal volg vir die goedgekeurde begunstigdes.
"Dit gaan 'n gemengde projek wees, bedoelende dat dit voorsiening gaan maak vir verskeie behuisingsprogramme en "instrumente" vir persone in die inkomstegroepe van R0-R3 500; R3 501-R7 000 en R7001-R22 000," het Didi Budricks, munisipale woordvoerder gesê.
Die ontwikkeling sal huise, gedienste erwe, GAP-behuising, sowel as "huurkoop-eenhede" insluit aan diegene wie aan die kwalifiseringsvereistes deur die regering voldoen.
Vergaderings is reeds met die potensiële begunstigdes gedurende April gehou, asook uitreike deur munisipale behuisingspersoneel om potensiële begunstigdes die geleentheid te bied om hul besonderhede op die behuising databasis op te dateer.
"Die begunstigde administrasie met almal wat op die behuising databasis van Melkhoutfontein en Stilbaai reflekteer, sal ook plaasvind sodra die Covid-19-pandemie dit toelaat. Almal op die databasis sal skriftelik in kennis gestel word wanneer die proses in aanvang gaan neem."
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Karoo nuus'