MELKHOUTFONTEIN NUUS - Die oop stuk grond langs die blou kerk in Melkhoutfontein is op Vrydag 9 September deur Hessequa-munisipaliteit opgeveil.
Die veiling is vooraf goed geadverteer, maar slegs drie voornemende kopers het daarvoor geregistreer.
Die perseel van 14 000m² is ideaal geleë by die ingang na Melkhoutfontein en is as besigheidsperseel gesoneer.
Die koper sal dit kan onderverdeel in besigheidserwe of alternatiewelik kan 'n winkelkompleks daar opgerig word. Met die 580 huise wat tans daar naby gebou word, sal 'n winkelkompleks ideaal wees, maar die koper sal daaroor besluit.
Die voornemende kopers was aanvanklik traag om te bie en die afslaer, Willie van Rensburg, moes die spreekwoordelike haas uit 'n hoed trek om die belangstelling te prikkel.
Die bod is uiteindelik op R450 000 toegeslaan.
Aangesien die waardasie van die grond R480 000 is, het die afslaer en die voornemende koper, verteenwoordig deur die prokureur Johan Smit, die koopprys op R500 000 vasgemaak.
Hessequa-munisipaliteit het egter 'n reserweprys op die grond, onbekend aan die afslaer en voornemende kopers, en die aanbod sal nou aan die munisipale bestuurder voorgelê word vir goedkeuring al dan nie.
Belangstellendes wat die veiling van die besigheidsperseel bygewoon het. Slegs drie voornemende kopers het vir die veiling geregistreer. Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'