STILBAAI NUUS - Die Melkhoutfontein-inwonersvereniging en -buurtwag is Vrydagaand, 3 Maart, met klippe bestook terwyl hulle in Melkhoutfontein gepatrolleer het.
Volgens Marthinus Baadjies, voor-sitter van die Melkhoutfontein-inwoners-vereniging, het hulle Vrydagaand agtuur tydens beurtkrag begin patrolleer omrede daar baie meer beweging is as dit donker is.
Hulle het eers deur die ou skema beweeg en toe is hulle op in Harmony Park en daarna na die informele gedeelte van Harmony Park.
Daar het hulle heelwat onder ouderdom dogters tussen die plakkershutte sien rondbeweeg. Die volgende oomblik is hulle met klippe bestook en moes hulle hardloop. Hulle was sonder polisiebegeleiding en twee van die lede is getref terwyl hulle gehardloop het.
Die polisie is ontbied en sers. Jaftha het daar opgedaag.
Hy was van groot hulp en die inwoners-vereniging en buurtwag wil hom net bedank vir sy hulp en bystand. Die klipgooiery het egter nie opgehou nie en die patrollie moes gestaak word voordat iemand ernstig seerkry.
Johannes de Vos, voorsitter van die buurtwag, het vir hulp gevra by kapt. Van Tonder, stasiebevelvoerder van Stilbaai-polisie, waarna Van Tonder vir hom gesê het dat daar twee polisiemanne Saterdagaand aan diens is.
Die groep het toe beplan om Saterdagaand, 4 Maart, teen 20:00 weer deur die gebied te beweeg.
Net na nege het 'n polisievangwa opgedaag om te sê dat hulle 'n boom moet gaan verwyder wat iewers by Jongensfontein/Stilbaai in die pad lê en nog 'n vangwa het 'n rukkie later opgedaag, ook met 'n verskoning. Die groep het toe besluit dit is te gevaarlik sonder die polisie en het die patrollie afgelas.
Marthinus Baadjies sê as die wetstoepassers nie omgee vir die gemeenskap nie is hulle hande afgekap, want die mag lê in die polisie se hande.
"Die gemeenskap roep uit om hulp!"
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'