STILBAAI NUUS - Na aanleiding van die gewapende roof en daaropvolgende konfrontasie in Melkhoutfontein het die Melkhoutfontein-inwonersvereniging 'n gemeenskapsvergadering in die gemeenskapsaal gereël.
Die doel van die vergadering was om terugvoer te gee rakende die vergadering wat die inwoners-vereniging met Hessequa-munisipaliteit en die Stilbaai-polisie gehad het en ook om die gemeenskap se insette te kry.
Die vergadering wat op Donderdag 17 Augustus gehou is het 'n vol saal getrek met meer as 200 inwoners.
Daar was selfs 'n paar Stilbaaiers en dit was duidelik dat mense keelvol is vir die situasie in Melkhoutfontein en hulle soek antwoorde en oplossings.
Die feit dat klein dogtertjies met 'n vuurwapen teen die kop gedwing is om plat te lê tydens die rooftog in die Rehoboth Mini Mark was die strooi wat die kameel se rug gebreek het en vroue het vertel hoe bang hulle is om soggens vroeg werk toe te gaan. Hulle vrees dan heeldag vir die veiligheid van hulle kinders en saans moet hulle, hulle self in hulle huise toesluit.
Waar is die dae toe vroue en kinders vrylik in die nag in Melkhoutfontein se strate kon stap sonder om heeltyd oor hulle skouers te moet kyk.
Wat ook duidelik uit die vergadering gekom het is dat sekere kontrakteurs en werkgewers mense Stilbaai toe bring om vir hulle te werk. Sodra die werk afgehandel is word hierdie werkers eenvoudig in Melkhoutfontein "gedump" en dit word dan 'n Melkhoutfontein probleem.
Met tye het die organiseerders moeite gehad om die vergadering rustig te laat verloop, want Melkhoutfontein is seer en Melkhoutfontein is kwaad. Soos een spreker tereg opgemerk het: "Dit borrel hier binne my, dit borrel."
Volgens Marthinus Baadjies, voorsitter van die Melkhoutfontein-inwonersvereniging, het hulle al die punte wat die gemeenskap geopper het saamgevat en 'n griefskrif word nou opgestel wat aan die Stilbaai-polisie en Hessequa-munisipaliteit oorhandig sal word.
Indien die situasie onder die mat ingevee word sal daar op verdere optrede besluit word.
Marthinus Baadjies, voorsitter van Melkhoutfontein-inwonersvereniging.
Vorige artikel: Melkhoutfontein is seer en kwaad
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’