HESSEQUA NUUS - Die lang wag is verby en die matriekuitslae is bekend.
Hoërskool Langenhoven op Riversdal het die beste in die Hessequa-streek gevaar met hul slaagsyfer van 100%.
Uit die 100 leerders wat die eksamen afgelê het, het 85% baccalaureus-sertifikaatpasse verwerf. 14 Het met onderskeiding geslaag, terwyl 20 B-gemiddeldes behaal het. Vakonderskeidings is deur 143 leerders behaal.
Willandri Hanekom het met 91,7% en 9 onderskeidings die beste gevaar. Mari van Tonder was met 87,8% en 8 onderskeidings in die tweede plek en Jaime Nicholls met 87,5% en ook 8 onderskeidings was 'n kortkop agter.
Hoërskool Gerrit du Plessis van Riversdal het verras deur met 22,2% op verlede jaar te verbeter. Hul slaagsyfer is 89,1%. Dié prestasie het aan hulle die vierde beste plek onder skole in die Wes-Kaap besorg. Uit die 101 matrieks wat die eksamen afgelê het, het 24 baccalaureus-sertifikaatpasse, 46 diplomapasse en 20 hoër sertifikaatpasse verwerf. Die skool het ook die beste van al die skole in die Eden-Karoodistrik in Ekonomie gevaar. Die top drie slimkoppe is Janine Hill in die eerste plek, Edwin Herdien tweede en Relton Damons in die derde plek.
Die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal het vir die eerste keer in 22 jaar nie 'n 100%-slaagsyfer behaal nie. "Ons is 'n bietjie teleurgesteld, maar ons was bewus daarvan dat ons druipelinge gaan hê," het skoolhoof André Latsky vir sowat 40 van die matrikulante, baie geklee in die skool se kakiebroek, wit hemp en skooldas, gesê.
Die slaagsyfer is 97,4% en 91% het baccalaureus-sertifikaatpasse gekry. Die top drie leerders het almal 'n A-gemiddeld. Hulle is Henk Smit, Sybrand M van Dyk en Gustav Smit. Die Smit-broers het sedert die eksamen saam met hul ouers na Burnie in Tasmanië verhuis.
Volgens korrespondent Michelle Spies het Hoërskool Albertinia gemik vir 'n slaagsyfer van 90%, maar toe verras die klas van 2019 almal deur 96,9% te behaal. Die leerders het 11 baccalaureus-sertifikaatpasse, 18 diplomapasse en twee hoër sertifikaatpasse behaal. In sewe vakke was die slaagsyfer 100%. Jacobus Maritz het die beste punte uit die groep behaal.
Korrespondent Clive Pretorius was by Kairos Sekondêre skool in Heidelberg, wat 'n slaagsyfer van 76,47% behaal het. Die eksamen is deur 85 leerders afgelê en 26 van hulle het baccalaureus-sertifikaatpasse verwerf. Diplomapasse het aan 23 leerders gegaan, terwyl 16 van hulle hoër sertifikaatpasse gekry het. Die toppresteerders was Erica Arendse met 77%, Neroesjke Atler met 68% en Shaun-Mari du Toit met 64,7%.
Hoërskool Heidelberg het volgens korrespondent Alex Marshall met hul 17 kandidate 'n slaagsyfer van 94% behaal. Die toppresteerder is Keacha Oliphant wat vier onderskeidings gekry het.
Dié uitgelate matrieks van Hoërskool Langenhoven het onderskeidings behaal.
Hoërskool Heidelberg se matrieks. Foto: Alex Marshall, korrespondent
Mnr. André Latsky, hoof van Hoër Landbouskool Oakdale tussen oud-leerders wat hul matrieksertifikate by die skool kom haal het.
Leerders van Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool op Riversdal is in die wolke met hul uitsonderlike prestasie. Foto: Deona Aucamp
Lees 'n verwante artikel: Blydskap en teleurstelling
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'