HEIDELBERG NUUS - 'n 52-jarige man het Maandagoggend 6 Mei in die plaaslike landdroshof verskyn nadat hy die naweek in besit van onwettige ammunisie en plofstof betrap is.
Sy oortreding hou verband met die vuurwapenbeheerwet.
Die beskuldigde is na 'n wenk deur die Valke op Saterdag 4 Mei by sy huis in hegtenis geneem.
Tydens die deursoekoperasie is sewe vuurwapens, 1124 rondtes ammunisie en drie grenate in sy huis gevind. Niks daarvan was in 'n kluis gebêre nie.
Die vuurwapens en ammunisie is gekonfiskeer vir verdere ondersoek.
Volgens ao Zinzi Hani, die Valke se mediabeampte, kan hulle nie die moontlikheid van verdere klagtes teen die beskuldigde uitsluit nie aangesien die ondersoek voortduur.
Borgtog van R5000 is aan die man toegestaan. Hy moet weer 9 Julie op die aanklagte van oortreding van die vuurwapenbeheerwet verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’