LANDBOU NUUS - Agri SA, wat georganiseerde landbou verteenwoordig, hoop dat Tito Mboweni, minister van finansies, se eerste begrotingsrede die volgende aspekte sal aanraak:
Droogte-ondersteuning:
Doeltreffende en vinnige direkte hulp aan boere wat deur droogte beïnvloed word en wat vir die subsektore van akkerbou-, tuinbou- en diereproduksie voorsiening maak.
Elektrisiteitsektorhervorming:
Elektrisiteit is ‘n belangrike produksie-inset vir die landbou. Waar boere die stygende insetkoste moet absorbeer het stygende elektrisiteitskoste ’n direkte impak op boere se internasionale mededingendheid.
Grondhervorming en steun aan opkomende boere:
Meer befondsing vir grondhervorming en ondersteuning vir opkomende boere is van groot belang. ’n Uitkomsgebaseerde-befondsingsbenadering, gekoppel met tegniese en mentorskap-ondersteuning, moet deel van die benadering wees.
Agri-ontwikkelingsfonds:
Befondsing en ondersteuning vir die vestiging van ’n Agri-Ontwikkelingsfonds wat ‘gemengde’ finansiering kan benut om die ontwikkeling van opkomende boere te ondersteun.
Bio-sekuriteit:
Befondsing ter ondersteuning en verbetering van Suid-Afrika se bio-sekuriteitsmaatreëls, opleiding van beamptes en identifikasie en naspeurbaarheid van lewende hawe.
Dieselterugbetalingstelsel:
Terugvoer oor die voorgestelde dieselterugbetalingstelsel om die verwerkings- en betalingsvertragings wat met die huidige stelsel ervaar word, op te los.
Padinfrastruktuur:
Die toekenning van befondsing vir die doeltreffende implementering van instandhouding van pad- en logistieke infrastruktuur.
Planne om korrupsie en swak dienslewering te hanteer:
Swak presterende munisipaliteite moet onder administrasie geplaas word om te verseker dat die beskikbare fondse doeltreffend bestuur word.
Beperking van buitensporige verhogings tot aksynsbelasting:
Oormatige stygings in aksynsbelasting kan ’n nadelige impak op die wyn- en tabakbedrywe hê.
“Hierdie is ’n geleentheid om na die beste praktyk terug te keer - om met die hulp van die regte instrumente onnodige uitgawes sonder vrees of guns te sny,” sê Nicol Jansen, Agri SA voorsitter van die sentrum van uitnemendheid: ekonomie en handel.
“Hoewel fiskale konsolidasie van kardinale belang is, moet die eerste keuse nie belastingverhogings wees nie.”
Agri SA hoop dat die begroting positiewe verbintenisse sal lewer, wat effektief geïmplementeer sal word, om die begrotingstekort te beperk en ekonomiese groei te ondersteun.
“Minister Mboweni het baie druk op hom om seker te maak dat Suid-Afrika se boeke klop,” sê dr. Requier Wait, Agri SA hoof van ekonomie en handel. “As hy ekonomiese groei wil ontsluit, is die landbousektor die sleutel.”
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'