STILBAAI NUUS - Die saal by Palinggat Oord op Stilbaai was Vrydagmiddag, 25 Februarie stampvol om meer uit te vind wat vir dié kusdorp in die toekoms voorlê.
Die waarnemende munisipale bestuurder, Hendrik Visser is deur Stilbaai Belangeforum genader om die gemeenskap in te lig oor waarheen Stilbaai op pad is en om kwellinge oor die infrastruktuur te bespreek.
Dit is nie nuus dat Stilbaai besig is om uit sy nate te bars nie teen die tempo wat mense hierheen stroom om af te tree, besighede te begin of om vanaf die huis te werk.
Die rede is nie net omdat dit 'n pragtige plek is nie, maar ook omdat Hessequa-munisipaliteit vir die agste agtereenvolgende jaar 'n skoon oudit gekry het en omdat dit nog 'n veilige plattelandse dorp is.
Die vergadering is deur Gustav Radloff, voorsitter van die belangeforum afgeskop. In sy voorsittersverslag het hy vyf punte uitgelig waaroor daar kwellinge bestaan.
Kwellings
• Die verkeersituasie en paaie;
• die bewaringsgebiede soos die Pauline Bohnen-natuurreservaat wat nie 'n bergfiets- of motorfietsspeelplek is nie;
• erosie van die oewerwal van die Goukourivier soos byvoorbeeld by Lapskuit;
• erosie van die kuslyn en die langtermyneffek van die stygende seevlakke;
• die nuwe ontwikkelings, soos onder andere die Skulpiesbaai-ontwikkeling. Inwoners van die omliggende gebied voel dat dié ontwikkeling 'n negatiewe effek gaan hê op die omgewing en ook dat 'n hoëdigtheid-ontwikkeling toekomstige huispryse kan beïnvloed.
Visser het sy aanbieding met 'n paar statistieke begin, wat net op Stilbaai van toepassing is en nie Jongensfontein en Melkhoutfontein insluit nie. Volgens hom is daar ongeveer 4 100 permanente inwoners.
“Laerskool Bertie Barnard het in 2017 tussen 140 en 150 leerders gehad en vandag is daar 330 leerders. Stilbaai kry 'n jonger bevolking met die gepaardgaande toenemende ekonomies aktiewe bevolking. Stedelike uitbreiding is egter beperk vir die volgende 30 jaar,” het hy gesê.
Stilbaai beslaan 'n area van 1 800 hektaar en sonder die reservate 1 415 hektaar, waarvan 430 h/a beboude-gebied is. “Munisipale regulasies bepaal dat erwe tussen 750 tot 800 vk/m moet wees en die minimum erfgrootte is 500 vk/m. Die minimum erfgrootte voorkom dat erwe onderverdeel word en hieruit kan gesien word dat daar heelwat groen areas in die dorp is.”
Volgens hom is die ontwikkelings wat in die laaste vyf jaar goedgekeur is, 114 huise by Preekstoel, 129 huise by die aftreeoord agter die munisipale kantore en die ontwikkeling op die hoek van Jongensfonteinpad en Bosbokduinlaan met 26 huise. In die vyf jaar voor dit was daar goedkeuring vir 360 huise.
“Daar is dus nie 'n skielike onbeheerde goedkeuring van nuwe ontwikkelings nie,” het hy verseker.
Wat paaie betref het die munisipaliteit R3 000 000 beskikbaar gestel vir opgradering van paaie tot einde Junie vanjaar. Vanaf Julie tot Junie 2023 is 'n verdere R7 000 000 begroot.
In sy samevatting het Visser gesê daar sal geen ontwikkeling wees buite die stedelike grense nie agv die infrastruktuur uitdagings.
Grondgebruike wat uitdagings bied
• Beroepsbeoefening. Sobering van wonings na sakepersele;
• bejaardesorg;
• diensbedrywe;
• rekreasie;
• opvoedkunde;
• begraafplaas; en
• mediese sorg.
“Wat infrastruktuur-ontwikkeling betref, is daar 'n meesterplan vir die padnetwerk. In beplanning is daar drie verkeersirkels wat met verkeersvloei sal help,” het hy gesê. Een sal by die Engen garage, nog een by Spar en 'n derde by die Jongensfontein-afdraai vanaf Hoofweg-Wes wees.
Dit is egter onderhewig aan die beskikbaarheid van geld.
Hy het bygevoeg dat die dorp nog gaan groei, maar dat die munisipaliteit in die posisie is om dit te reguleer en nie sal toelaat dat dit handuit ruk nie.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'