Update
RIVERSDAL NUUS - Met die skielike heengaan van die legendariese fluitjieblaser, Max Baise (93), het nie net dié dorp nie, maar die hele land een van sy grootste ikone verloor.
Oom Max soos die befaamde sakeman en voormalige Springbok-skeidsregter alombekend staan, het Saterdagmiddag, 11 Oktober, sy laaste fluitjie geblaas.
Intussen stroom huldeblyke in vir hierdie legende.
Hy was al sedert sy skooldae baie lief vir rugby en het hy ook vele kere Vrystaat-skolespanne verteenwoordig.
Sy belangstelling om die man in die middel te wees, was egter bloot toevallig toe hy in ’n kroeg verneem het van die Skeidsregtersvereniging en het hy dadelik besluit om aan te sluit.
Oom Max het vertel hoe hy vyf sjielings vir ’n skeidsregterskursus betaal het. Hy het op 25 Augustus 1956 sy sertifikaat van die Eksamenraad van die destydse Rugbyskeidsregtersvereniging van die OVS ontvang en kon hy amptelik die fluitjie blaas.
Sover bekend het oom Max se internasionale loopbaan as Suid-Afrika se beste skeidsregter gestrek van 1963 tot 1976, ’n hele 13 jaar.
In daardie dae was skeidsregters nie aangestel nie, maar was daar ’n paneel van skeidsregters en dan kon die besoekende span kies wie hulle wedstryd moet hanteer.
Sy slagspreuk as skeidsregter was: “Bemeester die reëls, sorg dat jy fiks is om by te bly, laat die spel vloei en blaas net wat jy sien.
En moenie vergeet om die voordeelreël toe te pas nie.
Oom Max was sinoniem met Riversdal. Hy het die Royal Hotel in 1980 gekoop en in 1990 verkoop en die drankwinkel in 2012 verkoop.
Al sy rugbygedenkwaardighede is hier uitgestal. Sy vrou Dorothy, het hom reeds in 2010 ontval.
In 2015 het sy biografie, Mister Ref verskyn en is ’n deel van die inkomste aan die Chris Burger Petro Jacksonspelersfonds geskenk.
Woorde en spasie sal nie genoeg wees om hierdie besondere man se lewe te beskryf nie. Daar sal ’n privaat verassingsdiens wees en later in die jaar sal ’n herdenkingsdiens gehou word.
Oom Max, Riversdal gaan jou mis!
Vorige artikel: Oom Max se fluitjie vir ewig stil
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’