HEIDELBERG NUUS - Nagenoeg 40 werkers by die dorp se kaas- en suiwelfabriek, Morning Milk, staar aflegging in die gesig nadat dit bekend geword het dat die fabriek se deure teen einde Desember gaan sluit.
Dit is nog nie duidelik wat die rede is dat die groot werkverskaffer besluit het om produksie te staak nie.
Met die ekonomie wat reeds so wankelrig is, én die werkloosheidsyfer wat so aanhoudend styg, is dit kommerwekkend dat die eienaar/s van die besigheid besluit het om na 12 jaar produksie te staak en die werkers af te lê.
Volgens van die werkers is hulle al 'n tyd gelede ingelig dat die fabriek se deure teen jaareinde permanent gaan sluit en is daar bespiegelinge dat daar dalk in George iewers 'n nuwe fabriek opgerig sal word.
Inwoners spreek kommer uit
Hier is egter vele inwoners wat hul kommer uitgespreek het dat die fabriek gaan sluit en die werkers 'n onsekere toekoms in die gesig moet staar.
Een so 'n inwoner, is Annelene Hartnick, bekende voormalige opvoeder en wyksraadslid asook gemeenskapsaktivis.
Volgens Hartnick is sy bekommerd dat die sluiting van die fabriek 'n negatiewe impak op die dorp se reeds wankelrige ekonomie sal hê asook dat dit dalk nog meer tot die sosiale vervalling van ons reeds gekweste gemeenskap kan meebring.
Hartnick is van mening dat dit nog nie te laat is om 'n ommeswaai te maak om die sluiting van die fabriek te keer nie.
Sy het genoem dat daar met die vorige soortgelyke geval, deur verskeie rolspelers ingetree is en dat die huidige eienaars die plek gekoop het.
"Kan daar dan nie weer so iets van stapel gestuur word nie," het sy duidelik bekommerd benadruk.
Bestuurder reageer
Die bestuurder is telefonies deur Suid-Kaap Forum genader en het hy bevestig dat die fabriek gaan sluit.
Hy het dit ook duidelik gestel dat alle produksie einde November gestaak word en dat die pakstoor se personeel dan ook iewers in Desember sal klaarmaak.
Verder het hy ook beklemtoon dat dit 'n privaat aangeleentheid is en dat dit nie 'n publieke kwessie is nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’