RIVERSDAL NUUS - Die Kunstekaap se galavertoning wat Donderdagaand, 16 Oktober, in die Riversdal-burgersentrum aangebied is, het die gehoor met 'n indrukwekkende verskeidenheid van musiek, dans en toneel betower.
Die aand was die hoogtepunt van Kunstekaap se landelike uitreikprojek, 'n samewerkings-inisiatief met die Hessequa-munisipaliteit, die Wes-Kaapse departement van onderwys en die Hessequa Jeugfees.
Die landelike uitreik, wat reeds vir meer as twee dekades deel is van Kunstekaap se missie om teater na die mense te neem, bring jaarliks professionele uitvoerende kunstenaars na landelike gebiede om gemeenskappe aan die kunste bloot te stel.
Hierdie jaar se program, getiteld Kunstetreffers, het talentvolle plaaslike en professionele kunste-naars op een verhoog verenig.
Die sterbelaaide lys het onder meer ingesluit Unmute, Dance for All, Cape Ballet Africa, die choreograaf Elvis Sibeko, Lynelle Kenned, Arline Jaftha, Ashlin Grobbelaar, Jovann Rocher, Josua en JP Pieterse, Hakkiesdraad Hartman, die Riversdal Uitvoerende Kunste (RUK) Koor, die RCC Band en The Empower Drumming Academy.
Die musikale regisseur was Stefan Lombard, terwyl Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap, as vervaardiger opgetree het.
Benewens die vertonings het Kunstekaap se tegniese span ook 'n loopbaanekspo vir hoërskoolleerlinge aangebied, waar jongmense meer oor loopbane agter die skerms kon leer - van klank en beligting tot verhoogbestuur.
Hierdie sessies het waardevolle insig gebied in die vele moontlikhede binne die uitvoerende kunste.
Le Roux het tydens die program beklem-toon dat die projek nie bloot oor vermaak gaan nie, maar oor toegang, inspirasie en herstel.
"Om teater na landelike gemeenskappe te neem, gaan oor meer as vermaak, dit gaan oor die herstel van waardigheid en die skep van nuwe drome.
Elke kind verdien dit om hulself op die verhoog te sien en verder as hul omstandighede te droom," het sy gesê.
Met vier suksesvolle vertonings oor twee dae, was die reaksie van skole en inwoners uiters positief.
Die galakonsert Donderdagaand het die gehoor op hul voete gehad met luid applous en staande ovasies, 'n duidelike teken dat die kunste steeds diep in Hessequa se gemeenskap weerklink.
Bywoning was gratis en verskeie skole uit die streek het van die geleentheid gebruik gemaak om hul leerlinge aan hierdie unieke kulturele ervaring bloot te stel - 'n aand wat beslis op Riversdal se kultuurkalender sal uitstaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’