RIVERSDAL NUUS - Hoërskool Langenhoven het Vrydag 17 Oktober die langverwagte amptelike opening van hul splinternuwe astrohokkiebaan gevier - 'n historiese mylpaal en die eerste van sy soort in die Hessequa-streek.
Die projek, ter waarde van sowat R7 miljoen, beloof 'n blywende nalatenskap vir sportontwikkeling en gemeenskapsbetrokkenheid in die streek te wees.
Die feestelike opening is deur skoolleiers, personeel, ouers, oudleerders, plaaslike besighede en Hessequa-burgemeester, Grant Riddles en Tuinroete-burgemeester, Andrew Stroebel bygewoon.
Die skoolhoof Henco Smith het die lint amptelik geknip, waarna die veld ingewy is met opwindende hokkiewedstryde tussen eerste spanne, oudleerders en jonger spelers.
Die nuwe astrobaan simboliseer die leuse, "Drome word waar" en is 'n getuienis van jare se beplanning en samewerking.
"Ons nuwe astrobaan is nie net 'n belegging in sport nie, maar ook in die toekoms van ons leerders," het Smith gesê.
"Om die eerste skool in die streek te wees met so 'n fasiliteit, is vir ons 'n besondere eer en 'n nalatenskap vir toekomstige generasies Dasse."
"Hierdie is meer as net 'n veld dis 'n simbool van toewyding, spanpoging en Langenhoven se strewe na uitnemendheid," het Smith bygevoeg.
Die moderne astro-oppervlak voldoen aan internasionale standaarde en is beskikbaar vir die skool se leerders, omliggende skole, sportklubs en die breër gemeenskap.
Die suksesvolle voltooiing van die projek is moontlik gemaak deur samewerking tussen die skool, ouers, oudleerders, borge en plaaslike besighede.
Hoërskool Langenhoven sien uit na talle toekomstige sportgeleenthede, toernooie en opleidingsklinieke op die nuwe astrobaan.
Die skool doen steeds 'n beroep op die gemeenskap vir voortgesette ondersteuning om die fasiliteit ten volle af te betaal.
As deel van hierdie nuwe fase stel die skool ook 'n vakature vir 'n astrobestuurder bekend.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’